Friday, 12 December 2008

Jean word 3 en baie ander dinge


Dit was 'n lekker besige week en die hoogtepunt was Woensdag toe Jean 3 geword het. Eintlik moet ek bieg - dit was 'n bietjie van 'n afskeep verjaarsdag. Ek het nie self koek gebak nie en ons het nie maatjies genooi vir 'n partytjie nie. Om op te maak het ek 'n leeu koek (hy is nou in sy leeu fase....) vir sy verjaarsdag bestel by een van die vele bakerye. Vanilla en strawberry soos hy daarvan hou. Die oggend het ons hom vroeg wakker gemaak met al sy geskenke en koek vir ontbyt !! Die res van die dag het hy saam met Oupa en Ouma gespeel.

Die week was veronderstel om 'n rustige een te wees met baie tyd om saam met my pa en ma in Chennai se winkels, strate, koffieplekke en restaurante te spandeer. Helaas. Ek het 2 oggende in die FRRO se stowwerige kantoor spandeer om ons Indie visas en verblyfpermitte te hernu. Gelukkig het Japie en sy kantoor al die vorms voorberei. Ek moes net met die dikke pak papiere in 'n ry wag (en elke 10 minute na 'n nuwe stoel skuif, soos die ry vorentoe beweeg - amper soos musical chairs) en dan van venster na venster gaan om verskillende papiere vir verskillende klerke te gee. Ons visa's is nou tot April hernu en die pak papiere is aangestuur na Delhi om dit tot Januarie 2010 te hernu. Verder het ek nog 'n dag spandeer om 'n nuwe blyplek te soek. Ons bly in 'n lekker plek, goed gelee en baie ruim. Toe ons Feb hier aangeland het, was ons egter nuut en naief. Nou weet ons dat die landlord vra 'n onrealisties hoe bedrag vir die plek ivm wat ander expats betaal, hy wil nie die prys aanpas nie, ons kontrak verval einde Jan09, ons wil nie van daai expats wees wat huurpryse (bestuurder en bediende salarisse) opjaag nie (al is dit die maatskappy wat betaal) en die AC's breek kort-kort, so ons oorweeg dit sterk om te trek.

Wel, die goeie nuus is, more vertrek ons almal op vakansie !! Ons sien baie uit. Eers die Golden Triangle (Delhi-Agra-Jaipur) en dan weer na Kerela (Fort Cochin, huisboot, Periyar en Madurai). Ek skryf weer na Kersfees !

Sunday, 7 December 2008

Ons kuiergaste is hier en Kersfees is oppad




















Ek het baie gewonder oor Kersfees in Chennai. In ‘n oorwegend Hindu stad het ek nie te veel verwagtinginge gehad nie. Wel, ek het vergeet dat in die wereld van vandag beteken Kersfees geld, maak nie saak of jy Hindu, Moslem of Christen is nie. In al die groter winkels is daar tradisionele Kersversiering, insluitende Kersvader met sy rooi pakkie en baard. Glad nie op dieselfde skaal as in Engeland of SA nie, maar dis daar. In baie van die kleiner straat winkeltjies word groot veelkleurige papier en plastiek sterre verkoop. Baie vrolik. Hotelle adverteer Kersetes en almal reel Kerspartytjies.

So was ons vandag by die OWC se Santa Brunch vir al die expats. My pa en ma het Donderdagoggend na hul dag in Dubai veilig hier aangekom en het gedeel in die opwinding. Daar was hope Kersfees arts and crafts vir die kinders, kersmusiek, Kersvader, geskenke en regtig heerlike Kersfees kos (van eiers en spek vir ontbyt tot turkey en plum pudding vir middagete). Inge was erg teleurgesteld met die klein geskenkie wat Kersvader vir haar gebring het, maar die speel met al die maatjies en al die goodies van die arts en crafts het darem opgemaak daarvoor.

Donderdagmiddag was ons na Inge se skoolkonsert. Ek was maar bietjie teleurgesteld. Wel, die konsert was oulik, maar dit was net 'n konsert, nie 'n Nativity Play nie. Inge was darem 'n ster (soos 'n ster in die lug, nie die ster van die konsert) en haar klas het 'n paar sekulere Kersfees liedjies gesing........


Met my pa en ma hier, is dit lekker om Chennai weer uit die oe van 'n toeris te bekyk. Hulle monde hang by tye oop en daar is gereeld 'n kopskud uit ongeloof, maar hulle geniet Chennai. Ons het baie om te wys en hul tyd in Chennai is min. Gister het ons gaan stap in die Theosophical Society se tuin, na die groot Banyan tree gaan kyk en die aand het ons gaan kite vlieg op Elliots Beach. Vrydag het ek en Jean DakshinaChitra vir hulle gaan wys en na die tyd het ons by Lydie's gaan eet. Die kos was lekker, maar die hoogte punt is die eienares. Sy is 'n Belg, nou getroud met 'n Indiese Moslem, wat al die wereld vol getoer het en oa 'n paar jaar as joernalis in die SA tydens die apartheidsjare gewerk het. Noddeloos om te se sy het baie interessante stories.

Wednesday, 3 December 2008

Madras Club





Vir die oploop na Kersfees hou die OWC verskillende Kersfees funksies vir die charities wat ons ondersteun. Een van hulle was vanmiddag - 'n middagete saam met 'n klompie bejaarders by die Madras Club. Wel, ek sal nou maar eerlik wees, vir my was die groot trekpleister om te gaan eet by die Madras Club. Dit is een van Chennai se ou instellings. 'n Pragtige ou gebou, restaurant, bar, tennisbane, swembad, groot boomryke gronde en baie moeilik en 'n lang proses om lidmaatskap daartoe te kry (ons probeer nou al 9 mnde !). So ek wil al lankal sien hoe dit daar lyk, maar is nog nooit daarheen genooi nie. Ek was nie teleurgesteld nie en die plek is pragtig opgetooi vir Kersfees. 'n Heerlike middagete, in ou wereldse sjarme met klaviermusiek in die agtergrond.

Lyk darem of die geluk aan ons kant is. Ons is so 2 maande gelede deur 'n permanente lid voorgestel tot die klub, Japie was vir een onderhoud en gaan volgende Vrydag vir 'n 2de onderhoud. So miskien sal ons in die Nuwe Jaar daar kan gaan uitspan.

NS. Koti is weer 'out of commission'

Sunday, 30 November 2008

Die son skyn weer














Gister het die son begin om by tye deur te breek en vandag skyn die son weer heerlik en dit lyk of die groot reen verby is. Oral langs die paaie hang mense hulle huisdinge in die son om droog te word. Vrydag was die skole steeds almal gesluit. Ek het besluit om die reen te trotseer en is met die kinders na een van die binnehuise speelplekke. Moet se ek het nie besef die strate was so toe onder die water nie, maar ons het deurgedruk en darem 'n paar foto's ook kon neem.

Ek skat plek plek sal die water nog vir 'n ruk so staan, wat vir ons 2 slegte dinge beteken. Muskiete en 'n vrot klankie in die lug. Die vullisverwyderings sisteem werk hier bietjie anders. Hier is nie wheelie bins wat sekere dae van die week uitgesit word nie. Ons bly seker in Chennai se poshste woonbuurt, maar selfs hier gooi almal hul vuilgoed op hope langs/in die strate. Die word dan gewoonlik weekliks verwyder. Wel, op die beste van tye stink so 'n hoop vuilgoed en as dit nat is net soveel erger.......

Thursday, 27 November 2008

Chaos - Chennai en Mumbai

Ons het vanoggend wakker geword in 'n chaostiese Indie. Laat ek begin met Chennai, dis 'n makliker storie.

Sikloon Nisha het Chennai vannag getref en woed oor 'n groot deel van die Tamil Nadu kus. Eintlik het die reen al Dinsdag begin en gister was reeds baie skole, insluitende Jean s'n, gesluit. Deur die nag het die reen aangehou en paaie is heeltemal oorstroom. Alle skole en baie kantore was vandag gesluit. Japie het eers uitgevind dat hulle kantoor ook gesluit is, toe hy daar aankom, maar getrou aan sy aard het hy heeldag gebly en gewerk. Ek en die kinders het eintlik 'n lekker dag by die huis gehad. Kersversierings gemaak, fliek gekyk (Lion King 2 maal - Jean se gunsteling tans) en koek gebak. Meeste mense in Chennai het egter 'n baie moeilike dag gehad. Motorfietse (die vervoermiddel van meeste) laat almal sopnat, huise is oorstroom en die dodetal oor die hele Tamil Nadu staan op 51. Sikloon Nisha word egter heeltemal oorskadu deur die gebeure in Mumbai.

Mumbai. 125 dood. 327 beseer. Sedert ons in Indie aangekom het, is dit die 5de terreur aanval in 'n Indiese stad. Die ander het by my verbygegaan en nie juis geraak nie. Al is Mumbai baie ver laat dit my steeds onrustig. Anders as vorige kere, was die aanvalle die keer gemik op toeriste plekke en baie goed georganiseerd. Wel, ek sal kies om positief te bly en te weet dat in 'n land van 1 biljoen mense is 125 nie baie nie en ons hopelik steeds veilig.

Die Taj Mahal Palace - een van die 2 hotelle wat nou so deurloop - het eintlik 'n pragtige storie. Blykbaar het Jamsetji Tata (die stigter van die Tata groep) die luukse Taj hotel laat bou, nadat hy toegang geweier is tot die "whites only" Watson hotel, die beste hotel in die stad op daardie stadium. Die Watson hotel bestaan nie meer nie, maar die Taj Palace, wat sy deure in 1903 geopen het, is nou die vlagskip van die Taj hotel groep waar konings en presidente oornag en die res van ons nog wou gaan tee drink het.

Op 'n beter noot - Kotti is terug op sy pos en ons baie verlig.

Wednesday, 26 November 2008

Weer bestuurders

Nog 'n jaar in Indie en ek kan 'n boek skryf oor bestuurders. Hulle is 'n unieke klomp. 'n Goeie bestuurder is goud werd en doen baie meer as net motor bestuur. 'n Goeie bestuurder kan redelike Engels praat, is altyd betyds om sir 7am werk toe te neem, hy was die kar vroeg oggend en zap al die muskiete wat in die kar oornag het, sorg dat die kinders vas is in hul karstoeltjies en sit die A/C aan (baie koud as sir alleen ry, bietjie warmer as madam en die kinders ook in die kar is). Anders as die res van al die motoriste, moet hy ry, sonder om die toeter te veel te druk, rustig genoeg sodat madam nie senuagtig raak nie, maar ook vinnig genoeg om almal betyds by hul bestemmings te kry. Inkopie tyd moet hy weet waar is al die winkels, help om die sakke te dra, niks se as madam baie koop nie en by die kinders in die kar bly as madam net 'vinnig' gaan brood koop. Hy moenie spoeg, burp of poep in die kar nie. Soms moet hy op sy eie gaan eiers koop, rekeninge betaal, kinders skool toe vat en briewe pos. In die aande moet hy op kort kennisgewing beskikbaar wees om tot laat te werk. As iemand 2am op die lughawe gehaal moet word, moet hy sommer in die kar slaap om betyds te wees. Hy moenie elke week vir 'n 'loan' vra nie - veral nie as hy nog afbetaal aan die vorige een nie. Dan die heel belangrikste - hy moet altyd 'n selfoon he wat werk en aan is !

'n Bestuurder werk lang ure, hy sien hoe ons meer geld uitgee op een ete as wat hy in 'n week verdien. En aan die einde van die dag, stap hy na die busstop of klim hy op sy motorfiets huistoe. Nie altyd maklik nie. Ek het nou die dag die storie gehoor van 'n bestuurder wat hom so vererg het vir sy madam se aanmerkings oor hoe hy bestuur, dat hy in die middel van 'n besige pad, uit die kar geklim en geloop het.

Goeie bestuurders is skaars. Hulle het darem nie net swaar nie. Gemeet aan Chennai standaarde kry hulle 'n goeie middelklas salaris en baie tips. Groot dele van die dag sit hulle iewers en wag, so daar is baie tyd vir praatjies maak, chai drink, tiffins eet en dvd's kyk. Meeste karre hier het dvd spelers. Aan die begin het ek ook gevra hoekom, die kinders kan mos by die huis tv kyk - wel, dis sodat bestuurder en pelle kan dvd's kyk ! Soms moet ek se, as die klomp bymekaar is, is hulle erger as tienerseuns in hul pa se karre. Ek het selfs al gehoor van bestuurders wat nee gese het vir 'n werk met 'n goeie salaris, net omdat die familie se kar hom nie aanstaan/nie by sy status pas nie.

Ons het al 'n hele klomp bestuurders gehad. Eers was daar die dieseldief, daarna 'n string tydelike ouens, insluitende oompie Raman en Babu. Ons het genoeg gehad van sukkel met karre en bestuurders en het Europcar gekry om kar en bestuurder vir ons te reel. Die eerste bestuurder wat hulle ons gegee het, het net 'n week gehou en ons amper ons Kerala vakansie gekos. Daarna het Kotti begin. Kotti is 'n goed, hy voldoen aan meeste vereistes. Sy oom is egter Saterdag oorlede, hy na die begrafnis en sedertdien het ons nog nie weer van hom gehoor nie - selfoon se "no". Ons het tans weer tydelike bestuurders, die dat ek vandag besin oor goeie bestuurders.

Security hier onder se Kotti het laat weet hy sal more terug wees. Nou waarom nie vir ons bel nie ? Miskien is sy selfoon regtig stukkend en ken sy suster, se auntie, se uncle die dobi wat hier langs die straat stryk en het die gevra dat die chai verkoper op sy fiets 'n boodskap vir security by die hek moet gee, om vir ons te se. Wie weet - ek twyfel egter.

Sunday, 23 November 2008

Smiling Schoolgirls


Elke jaar hou Global Adjustments ('n relocation agentskap wat ons look-see visit in Chennai gereel het) 'n expat foto kompetisie - Beautiful India. Daar was 4 afdelings - places, faces, culture and into India. Ek het deur my 100de Indie foto's gekyk en 'n paar ingeskryf. Wel, die kompetisie was natuurlik baie straf - 500+ foto's is oor al die afdelings ingeskryf. Ek het egter my familie se brunch in die Taj Coromandel verdien - Smiling Schoolgirls - het 2de gekom in die faces afdeling !

Tuesday, 18 November 2008

Speelgroep



Elke Dinsdagmiddag is dit tyd vir OWC speelgroep. Die eerste Dinsdag van die maand is dit by die skool se speelgrond en die res van die tyd maak ons beurte by ons huise. Die eerste keer het ons beurt geval in die groot skoolvakansie, so daar was net 'n paar mammas en kinders. Vandag was dit weer ons beurt en daar was baie maatjies ! Ek het na die tyd gaan tel - op 'n stadium was ons 48 siele in die huis. Kyk al die skoene voor die deur.


Dis gewoonte hier om skoene uit te trek voor jy in iemand se huis in gaan om nie stof in te trap nie. In Engeland doen party mense dit ook in die winter, maar hier moet ons ook by sommige winkels, Jean se skool, gim, tandarts en natuurlik tempels skoene uittrek. Gelukkig, dra ons net sandale, so mens hoef nooit te wonder of jou sokkies heel is nie.

Sunday, 16 November 2008

Afskeid














Een van die moeiliker dele van bly in Chennai as 'n expat, is dat mens gereeld moet afskeid neem. Expats hier bly gewoonlik tussen 1 tot 3 jaar, so daar is altyd nuwe mense wat kom en oues wat gaan. Ek sukkel nog met die kort termyn vriendskappe. Siende dat mense so baie kom en gaan, maak mense vinnig vriende en nuwelinge word altyd hartlik verwelkom, maar daar kom ook altyd 'n afskeid. Vandag het ons afskeid geneem van 'n familie met wie ons goed bevriend geraak het en baie lekker saam gekuier het. Wel, die lekker deel was, dat dit in die vorm van 'n braai was - ons eerste braai in Chennai ! Ons was 5 families saam, almal met kinders, lekker kos, koue bier en 'n heerlike saam kuier. Die ander voordeel is dat teen die tyd wat ons hier weggaan behoort ons kuier plek in Oostenryk, Finland, Belgie, Australie, Amerika, Swede en natuurlik Chennai te he !

Ons eerste Hindu troue


















Een van Japie se kollegas, se broer, het so maand gelede iewers in die suide getrou waar sy vrou se familie bly. Gisteraand het hulle 'n tweede onthaal hier in Chennai gehad, waarheen ons ook genooi is. Die foto bo links, is van die pragtige uitnodiging wat ons gekry het. Dit was 'n lekker verkorte weergawe van die oorspronklike troue en daar was ook nie so vreeslik baie mense nie. So 'n goeie geleentheid vir ons eerste blootstelling aan 'n Hindu troue.

Met die ry soontoe het ek vir die kinders gepreek om vriendelik te antwoord op die vraag "what's your name?", nie gesigte te trek as hulle in die gesig geknyp word nie, en veral nie sies te se vir kos wat hulle nie eet nie !! Wel, hulle was perfekte gaste. Inge se net 5 mense het haar geknyp en Jean het die chapati's baie geniet.

Die saal buite was pragtig versier met mango blare, liggies en 'n tafel met allerhande beeldjies uitgekerf uit groente. Buite was daar ook 'n bouncy castle en klomp vermaak vir die kinders, maar ongelukkig het dit gereen, so ons is dadelik na binne. Binne het ons in 'n saal gesit en terwyl ons gewag het vir die bruid, het die kinders prentjies op hulle hande laat verf en ek het 'n mehendi op my hand laat doen (dit word gese dat hoe donkerder die mehendi uitkom hoe liewer is jou man vir jou.....) Met die bruid se koms het sy en die bruidegom voor in die saal gaan staan, mense het vir hulle geskenke gegee en fotos saam met hulle laat neem. Japie het voor die tyd by sy werk rondgevra wat se geskenk ons moet gee. Almal het gese 'n silwer houertjie waarin mens olie gooi en dan laat brand, vir nie meer as INR500 nie. Ons is dus Saterdagoggend na 'n juwelier om die te gaan koop. Daar kon ons kies uit 'n groot verskeidenheid, die potjies is geweeg en die prys word dan uitgewerk volgens die huidige prys van silwer. Die juwelier se groot besigheid is goue juwele en ek het besef ons familie gaan baie af steek die aand. Hier in Chennai word 'n familie se welvaart geken aan hoeveel goue juwele die vroue dra. Die bruid het dan ook pragtig gelyk en is versier met goue juwele aan die arms, nek, kop en ore. Wel, miskien is goud nie vir my nie, maar ek het aan Japie genoem dat Kersfees kom nader en soos altyd.... when in Rome....














Na die geskenk gee en foto sessie, het die mense stuk stuk na die eetsaal onder gegaan. Daar is lang rye tafels gedek, met die kos op piesangblare bedien. Ons is die eerste westerlinge wat van die spesiefieke kok se kos geeet het, so hy het met groot afwagting gestaan en kyk of ons sy kos gaan eet en geniet. Koti, ons bestuurder is ook genooi om saam onthaal te hou, so hy het met net soveel entoesiasme vir ons vertel van die verskillende kosse en was baie in sy skik dat ons dit geniet het. Die kos was regtig baie lekker en 'n dag later kan ek ook getuig dat die kos ons geen latere probleme gegee het nie. Na ete is ons huis toe. Nou hou ek duimvas vir 'n uitnodiging vir 'n volledige troue. Dan sal ek my Sari aantrek en die familie juwele aansit !

Monday, 10 November 2008

Halloween


This is halloween, this is halloween,
halloween, halloween, ha, ha, ha !



Laas week het ons gehalloween dat dit by my ore uitloop. Nog nooit het ek enige erg gehad aan halloween nie, maar Inge is by 'n Amerikaanse skool en vir hulle is dit 'n groot ding. Blykbaar in die US word huise versier soos dit in UK gedoen word vir Kersfees ! Eintlik het ons halloween al in Disneyland begin. Daar was oral pampoenmense wat besig was om Disneyland oranje te verf. Terwyl ons weg was het die OWC vir die kinders 'n halloween arts and craft middag gehad en die volgende dag sou hulle gaan trick or treat. Die trick or treat het uit gemonsoon, so ons eerste Woendag terug het ons na skool gaan trick or treat. Dit was hier in ons woonbuurt, ons het 'n kaart gekry met waar om te gaan en het saam met die ander 150 kinders, almal in kostuums, die woonbuurt ingevaar. Die locals het omtrent van hulle fietse afgeval om die gedoente te aanskou. Inge en Jean het met 'n sak vol sweets by die huis gekom. Donderdag het Inge in haar klas 'n halloween carnival gehad. Ek moes oranje spaghetti maak vir die kinders om spinnekoppe, bats en spokies daaruit te vis en Vrydag het hulle 'n halloween parade gehad vir die hele Elementary skool. Nou weet ek ook.

This is halloween, this is halloween,
halloween, halloween, ha, ha, ha !

NS. Vir volgende jaar sal ek bietjie navors wat presies halloween beteken en waar dit sy oorsprong het, maar vir vanjaar het ons net die pret geniet.

Saturday, 8 November 2008

Terug van 'home leave'

















Na 'n heerlike 2 weke in Engeland is ons terug in Chennai - home sweet home - ja, nogals die keer. Eintlik is ons al 'n week terug, maar tussen jetlag en al die kinders se aktiwiteite het ek geen kans gekry vir blog nie.

Nog nooit is ons so sleg gevang deur jetlag nie. Met UK wintertyd, verskil Indie en die UK nou 5.5 ure en ons lywe se horlosies sukkel om aan te beweeg. 9pm in die aande kry die kinders hulle 2e asem en in die oggende moet ek hulle uit die beddens sleep. Inge het gese die naweek wil sy net slaap en slaap en slaap.

Die Engeland kuier was baie lekker - die weersiens tussen die 4 niggies en nefies was groot en ons het dit baie geniet by die Salta's. Ons was gelukkig om saam met baie van ons vriende in Engeland te kon kuier en een Sondag na die SA kerk te kon gaan. Die ander hoogte punte was slaap onder 'n duvet, stap in die luukse winkels, self bestuur (Ciska was baie braaf en het haar vinnige kar vir ons geleen), baie vleis eet, 'n besoek aan Westcott en al die herfsblare wat die wereld daar versier. Ons was ook vir 'n paar dae na EuroDisney wat ons almal baie geniet het. Ons ander het egter vir Jean so uitgeput dat hy later gesmeek het - bed toe ! Gewoonlik is dit 'n stryd om hom in die bed te kry.

Ja, en die keer kan ek regtig se dis lekker om terug te wees. Koti se vriendelike gesig het ons 3am op die lughawe ingewag. Die weer is heerlik koel - selde warmer as 30 C. Wel, dit is immers amper winter hier. Nadat Inge baie swaar afskeid geneem het van almal in Engeland is sy weer tevrede en gelukkig by haar maatjies in die skool. Amudha is weer op haar pos en maak die huis pragtig skoon. Ons het nie een vervelige oomblik nie en is lekker besig en oor 'n maand kom my pa en ma kuier.

Tuesday, 14 October 2008

Monsoon

Die Monsoon is hier ! Vir die res van Indie is Monsoon tyd van Junie tot September. Hier in Chennai moet ons wag tot Oktober. In Bollywood flieks is daar altyd 'n stukkie waar mense buite in die reen dans en lag en ek moet se die Monsoon bring nogals 'n vrolike gevoel saam. Na die maande en maande se geweldige hitte en humiede weer, bring die reen voorwaar 'n lafenis. Die monsoon kom ook nie stil-stil nie - dis donderslae, weerlig en harde buie reen. 'n Harde reenbui hou egter nooit lank aan nie en as mens tyd en geduld het, moet jy bloot 'n rukkie onder iets skuil. Ek was egter bietjie stadig om dit te leer en het Sondag van die kerk tot die kar sop-sop-sopnat gereen. Koti het net sy kop geskud en gese "Madam - just wait!". As die reen so hard val, is dit net 'n paar minute dan verander die paaie in riviere. Lyk nie of hier juis dreineringsisteme is nie. Langs die pad is dit 'n vrolike spul. Die motorfiets en fietsryers stop almal en skuil van die reen onder hulle sambrele. Die haastiges ry met saambreel en al op die fiets/motorfiets. Wel, as dit reen is die verkeer so stadig dat 'n oop sambreel nie juis pla nie. Die onvoorbereide haastiges reen natuurlik lekker nat. Dis steeds glad nie koud buite nie, maar ek dink vandag is sover my koelste dag in Chennai - 'n gemaklike 26C. Lekker herfsweer.

Sunday, 12 October 2008

Diwali Mela


Saterdagaand was Diwali Mela (Fees van die ligte viering) by Inge se skool. Eintlik is Diwali vanjaar eers 27 Oktober, maar dan is dit ook skoolvakansie. Die drag was Indian Casual. Ons en amper al die ander nuwelinge by die skool is die oggend Fabindia toe om te gaan klere koop. Fabindia is 'n bekende winkel met informele Indiese klere, mooi linne, gordyne ens. Die inkopie uitstappie was baie suksesvol en Japie het 'n nuwe kurta gekry, Jean 'n pajama broek en Inge 'n romp, toppie en dupatta (serp). Wel, Japie se kurta is 'n korte, so lyk eintlik maar soos enige ander hemp. Jean het al 'n lang kurta gehad en saam met die pajama broek (wyd bo met lang nou pype) het hy pragtig gelyk. Ek het een van my vele mini kurta's aangehad en Inge was die ster van die aand met selfs jasmyn blommetjies in haar hare.
















Die Mela self was heerlik. Die skool was pragtig versier met Sari's wat van die boonste verdiepings af gehang het en baie liggies. Die kinders het sonder einde saam met hulle maatjies rondgehardloop en gespeel op die gras. Daar was Indiese danse in die gimnasium, maar die kinders wou net speel. Ons het 'n heerlike Indiese ete gekry en alles is afgesluit met 'n groot vuurwerkvertoning.

Friday, 10 October 2008

Feeste, feeste en feeste

Oktober is die maand van feeste. Elke paar dae word 'n ander fees gevier, altyd mooi kleurvol, interessant en lawaaierig. Ek kan nie lekker tred hou met al die name en redes nie, maar hier is 'n paar foto's en my weergawe daarvan.

Navratri - Festival of the dolls - Die fees van die poppies is deel van Navratri wat oor 9 nagte en tien dae gevier word. Dit is ter viering van die 9 verskillende vorme van vroulike godheid. In Hindu huise stal die moeders poppies uit om die fees te vier. Een van die godinne is Saraswati - godin van kennis, musiek en kunste en dus word die fees ook in skole gevier. Die poppies word op verskillende vlakke uitgestal om die verskillende stadiums van Hindu spiratuliteit te simboliseer. Onder is diere, dan gewone mense (by Jean se skooluitstalling was dit mannetjies wat krieket speel), dan gewoonlik priesters en laaste die gode.

Ayudha puja - De puja word op die laaste aand van Navratri gedoen, wat in Chennai Woensdag was, en is om die implemente wat in 'n persoon se daaglikse lewe gebruik word, te vereer. Vir kinders is dit skoolboeke, bestuurders hul karre, kantoorwerkers hul kantoor en rekenaars, tuiniers hul graaf en vurk en ou mense hul TV's. Die goed word dan versier en die idee is dat dit vir 'n dag lank nie gebruik moet word nie. Die dat die staatskole en meeste besighede 'n vakansiedag gehad het.

Koti het ons kar blinker as ooit skoongemaak, die puja by die kantoor gaan doen en die kar het teruggekom, versier met blomme en bindhi's ooral op die kar.

Die aouto rikshwas word pragtig versier met blomme en piesangblare. Al die blertsies op die vensters is bindhi's.

Die bouers oorkant ons huis het natuurlik uitgehang vir die fees. Kyk die vlaggies, piesangblare en piesangtrosse ! Ja, ou Guy hang nog steeds.....

Japie se kantoor versierings.

Winkels word ook versier - Amma Naana - die winkel waar ons al ons Westerse kos koop.

Monday, 6 October 2008

Sondae in Chennai

















Die madams van Chennai maak nie kos op 'n Sondag nie. Dis nie dat ons lui is nie, want watter groter plesier is daar as om vroeg op te staan terwyl die res van die huis nog slaap, aartappels te skil, die boud in die oond te sit, poeding reg te kry en dit alles voor kerk, sodat die kos reg is vir 12 uur ? Dis net, "when in Rome......" Daar is 2 keuses hier - Sondag brunch of Ideal Beach. Hier is 'n verskeidenheid van hotelle wat 'n Sondag brunch het. Die eerste keer wat ons gegaan het, was ons verras dat dit eers 12:00 begin het en ons het bacon, eiers en croissants verwag. Die was wel daar in 'n hoekie, maar ook
alle ander soorte kosse. Party disse word buffet styl voorgesit, soos die slaaie, groente, kase, Indiese kos en ander kosse, soos steak, hamburger, vis, prawns, pasta, pizza bestel mens by stalletjies en dit word vars voorberei. Dan is daar natuurlik die poeding tafel ! Ons gunsteling brunch is by die Courtyard Marriot, siende dat daar ook 'n bouncy castle, gesigverf, ballonne en towernaar is om die kinders besig te hou terwyl ek en Japie rustig kan sit en eet. Dis dan ook by ons eerste brunch hier, wat ons besef het, dat Indie nie net goeie dinge vir die kinders gaan leer nie. Jean het baie gou agtergekom dat daar 'n menigte is wat staan en wag om hom te bedien. Vinnig het hy begin om net sy vingertjie na 'n ballon, koeldrank of roomys te wys en dit word vir hom gebring.















Wel, ons kan nie elke Sondag net eet nie, so
Ideal Beach is 'n goeie alternatief en die kinders se gunsteling. Ideal Beach is amper 'n uur se ry van ons af en dit is die enigste resort wat dagbesoekers toelaat. Daar gekom gaan sit ons altyd eers op die strand onder die palmbome en as dit nie te warm is nie, kan ons, ons voete gaan nat maak in die see (nie regtig vir swem nie, te gevaarlik). Vir middagete gaan ons na die restaurant langs die swembad en na ete is dit swemtyd (want dan is die swembad in die skadu !). Laat middag as ons terugry, vang die ander altyd 'n lekker slapie in die kar. Ek moet natuurlik wakker bly om te help kyk dat ons uit die pad bly van koeie, busse, fietse, karre en bokke.

Friday, 3 October 2008

Jean skool konsert

Gister was 'n vakansie dag om Gandhi se verjaarsdag te vier. Japie moes ongelukkig gaan werk, maar was betyds terug vir die hoogtepunt van die dag - Jean se skoolkonsert om hulle 2de bestaansjaar te vier. Dit was 'n groot geleentheid, in 'n spesiale saal met die Amerikaanse Consul General wat dit geopen het......

Die uitnodiging het gese ons moet 4pm sit, maar aangesien dit Indie die is en 'n local skool het ons gedink ons hoef nie te stiptelik te wees nie. Wel, weereens het ons besef ons verstaan nog nie Indie tyd nie, want toe ons net na 4pm daar aankom, was ons van die laastes om op te daag !! Die meeste kinders in die skool is so tussen 1 en 4 jaar en het pragtig konsert gehou. Jean en sy maatjies het 'n ABC liedjie gesing en elkeen het 'n beurt gekry om voor te staan met sy letter (Jean met J). Jean was 'n ster en het sy oomblik baie geniet. Hy het dit so baie geniet, dat toe die volgende groep opgaan, het hy besluit hy wil weer en 'n het pragtig gaan saam dans. Die ouers is gevra om nie foto's en videos te neem nie, so ek het ongelukkig niks om te wys nie. Daar was egter fotograwe so hopelik kan ek binnekort van hulle foto's opsit.

Sunday, 21 September 2008

Langs die strate van Parrys

Saterdagoggend het ek en Japie in die strate van Parry's Corner, of sommer net Parrys, gaan stap. Nuwelinge in Chennai mag met die aanhoor van die naam dink aan straat kafee's, pragtige geboue, musiek en inkopie hemel soos in die regte Parys. Dit alles en veel meer is in Chennai se Parrys, net anders.

Parrys is terselfdertyd berug en geliefd in Chennai. Dis die plek waar jy enige iets kan koop, jy moet egter stap, want karre kan nie in die straatjies nie. Daar is 'n straat vir pype, 'n straat vir krane, een vir staal, een vir brille, 'n ander vir potte, nog een vir rokke. Ek was opsoek na tafeldoeke vir Halloween, maar die straat het ons nie gekry nie. Ons het verby 'n skool gestap net toe die kinders uitkom en in
fiets rickshaws klim, oppad huistoe. Parrys het tempels, moskees, kerke, sommer langs mekaar. Ons het verby 'n glaskis met 'n lyk gestap, baie gemors, mense wat op die straat bly, kinders wat gebad word, baie winkels, koeie, ou tannies wat sit, vrouens wat blommetjies vleg voor tempels, mense wat eet by die straatwinkeltjies en mans wat skelm brandewyn drink in hierdie "droe" staat van ons. Ons het gestap, gekyk, gewonder, foto's geneem en toe die hitte te veel raak, 'n fiets rickshaw gekry om ons terug te ry na ons a/c kar en luukse wereld. By Amethyst, 'n lieflike westerse restaurant, het ons in die tuin onder die bome gaan ontbyt eet en gesels oor die lewe.....

Dogtertjies in die fiets rickshaw oppad huis toe.

Die gesin se huis, besem op die dak, wasgoed op die draad, pa en ma wat kaart speel terwyl die kinders op pa se fietswa speel. (Dis nie hulle motorfietse nie.....)

Hoop (dat iemand die eiers sal koop voor die son dit vrot bak)
Geloof (in 'n reis sonder ongelukke op baie besige paaie)
Liefde (vir gekleurde eierhouers ?)

Ek was nie seker wie is die oudste nie, die passasier of die rickshaw bestuurder. (Japie wonder of die passasier nie dalk Mugabe is nie - sy Zim dollars beteken darem nog iets hier. Ek sal eersdaags begin uitkyk vir Mbeki...)

Vanuit ons rickswa. Die man moes hard trap - die sir en madam is effe swaarder as sy gewone kliente. Ons het hom darem goed getip.

Tuesday, 16 September 2008

Net in Indie

Sondagaand net na 10 kry Japie 'n sms van Jean se skool wat lui "School will be closed due to goverment announcement". Hy sms terug "What !! Why ?". Kry boodskap terug "Birth centenary festival of previous Chief Minister Anna."

So 'n dag voor die 100 ste herdenking word daar besluit om dit 'n Tamil Nadu publieke vakansie dag te maak. Die volgende dag lees ek in die koerant dat alle regerings kantore, skole, banke en publieke sektor maatskappye sal gesluit wees en hulle moedig privaat organisasies ook aan om die dag as vakansiedag te verklaar!!!! Wat het geword van beplanning ? Ons weet nou al 100 jaar wat die man se geboortedatum is !! Net in Indie. Wel, die feit dat Jean nie kon skool toe gaan nie, was nie regtig 'n probleem nie. Die Amerikaanse skool het hulle nie aan die afkondiging gesteur nie en Inge kon skool toe gaan soos gewoonlik, maar vir die res van Chennai het dit baie ongerief verskaf. Ons huishulp, Amudha, soos baie ander, het eers van die verwikkeling gehoor toe sy agterkom haar kinders se skoolbus daag nie op nie. O ja, en die koerant het gese die skool kinders wat die dag eksamen sou skryf, sal dit op 'n latere dag doen. Net in Indie.

Onam festival


Vrydag was Onam veesvieringe. Die fees het sy ontstaan in die staat Kerala en is ter ere van koning Mahabali van antieke Kerala. Nuwe klere word op die dag gedra, spesiale kos word geeet en op die grond voor die voordeur word patrone met blomme uitgepak. Ons buurvrou het in Kerala groot geword en die vrolike blompatroon het ons die oggend begroet. Sy en haar 2 dogters (2 Amerikanertjies - aksent, klere, musiek laat geen twyfel nie) het vroeg oggend in hulle tradisionele klere die patroon uitgepak. Dis vir my 'n pragtige tradisie wat so van ma na dogter oorgedra word.

Thursday, 11 September 2008

Inge partytjie


Met al die Ganesha feesvieringe het ek vergeet om foto's van Inge se partytjie op te sit. Siende dat ek nog altyd vir die kinders se verjaarsdae self koek gebak het, wou ek graag vir die een ook een bak. Ek het egter nie kans gesien vir koek bak vir 32 kinders vir die klaspartytjie nie, so ons het 'n paar maatjies van die speelgroep verlede Maandag oorgenooi vir koek en partytjie. Die Amerikaanse skool het vakansie gehad, US Labour Day, so dit was sommer 'n goeie manier om die kinders besig te hou, terwyl ek en die ma's kon kuier.

Sunday, 7 September 2008

Ganesha gaan see toe





Na kerk vanoggend het Japie 'n sms van een van sy kollegas gekry om te se, vandag is die dag wat al die Ganeshas see toe gaan. Ons besluit toe om sommer langs Marina beach huis toe te ry. Wat 'n feestelikheid ! Oral langs die pad het ons verby klein lorries, ossewaens en fietswaentjies gery met groot Ganeshas en baie mense op. Die mense deel dan Indiese 'sweets' uit en bestrooi die pad met blomme, soos hulle ry na die plek waar die Ganeshas in die see gesit word. Ons het die optog gevolg - ek kon nie die foto geleentheid laat verby gaan nie. Kotti, was ook baie entoesiasties om vir ons die feesvierings te wys. By die see aangekom het 2 hyskrane, 'n lang ry Ganeshas en bitter baie mense op ons gewag. Weereens het Indie my verstom - die heel groot Ganeshas word met 'n hyskraan van die lorries af opgelig en voor by die see neergesit. By die see word dit dan in 'n bootjie gelaai en so 10 meter ingevat en dan afgegooi. Eintlik was ek verras oor hoe ordelik alles gebeur het - daar was polisie, weermag, brandweer en versperrings sodat net party mense by die see en die Ganeshas kon uitkom. Japie en die kinders het een kant gaan staan en Kotti het 'n paar woorde met 'n polisieman gewissel en daarna vir my en die kamera begelei tot reg voor by die see. Moet se ek het een slag opgekyk en gesien hoe 'n Ganesha gevaarlik oor my kop swaai en "Ganesha val op dom toeris" het in my gedagtes opgekom. Die prentjie van 'n kleurvolle Ganesha met sy vet pens en handjies in die lug oppad see toe sal my egter lank by bly.

Dis natuurlik nie 'n baie omgewings vriendelike fees nie. Die kleiner Ganeshas word van klei gemaak, maar die groottes van gips en die volgende dag spoel daar blykbaar 'n hele klomp dooie visse uit.


Inge was ook baie geintresseerd oor die klomp olifant beelde en het duisend en een vrae gehad, waarvan almal nie eenvoudige antwoorde het nie. Gelukkig het sy nie gevra ons moet ook 'n Ganesha koop nie !