Thursday, 31 July 2008

Jean se skool


Vandag is Inge se laaste dag by "Jean se skool". Vyf maande terug was sy nie baie gewillig om van haar Westcott skool na, volgens haar, 'n baba skooltjie te gaan nie, maar ons het haar oorreed om bietjie vir Jean te gaan help. Vanoggend was sy baie hartseer oor die vooruitsig van 'n laaste dag. Beide Inge en Jean is baie gelukkig in die skooltjie waarheen hulle 4 oggende in 'n week gaan. Daar speel hulle heerlik met die Indiese maatjies, eet rys en chapati en leer 'n paar woorde Tamil (die skool se voertaal is Engels). Dit gaan vir Jean 'n groot aanpassing wees sonder sy groot sussie Inge.

Saterdag gaan ons na Inge se nuwe skool (http://www.aisch.org/) se opedag en Maandag is haar eerste dag !

Tuesday, 29 July 2008

Uiteet


Gereeld uiteet is een van die klein plesiertjies wat ons in Chennai het. Hoofsaaklik omdat ons 'n gewillige en goeie babysitter in Amudha het en ook omdat Chennai so 'n groot verskeidenheid interessante restaurante het. Hier is Thai, Maylasian, Koreaans, Chinese, Libanees, Italiaans, Amerikaans, Mexico, Spaans en dan natuurlik Noord en Suid Indiese restaurante. Noord en Suid Indiese restaurante word dan verder onder verdeel in die verskillende streke bv. Keralan, Punjabi, Bengali, Tamil ens. So een maal 'n week vat ek en Japie ons Chennai City Info boekie en kies 'n nuwe restaurant om uit te probeer.

In Engeland het ek gedink Indiese kos bestaan uit Korma, Madras en Vindaloo - die disse sien ek egter selde hier op 'n menu, siende dat dit Bangladeshi disse is en net 'n klein deeltjie van Indiese kos uitmaak. Suid-Indiese kos is hoofsaaklik rys en vegetariese geregte met baie verskillende speserye oa chilli. Aanvanklik het ek net twee happe kon vat en dan het die chilli my so gebrand, dat ek verder niks kon proe nie. Nou het ek geleer dat hulle nie verniet curd (yoghurt) saam met al die geregte bedien nie - dit vat die brand amper heeltemal weg.

Anna Laksmi, is sover ons gunsteling Suid Indiese restaurant in Chennai. Die foto is van my "thali" wat ek bestel het. 'n Thali is 'n verskeidenheid geregte in klein silwer bakkies wat op 'n piesangblaar op 'n silwer bord bedien word. Soos mens eet, kry jy verskillende soorte rys en brode (chapati op foto) en die silwer bakkies word opgevul en met nuwes vervang tot jy nie meer kan nie. Die thali's sien mens ook baie by straat restaurante, gewoonlik met 'n berg rys op die bord.

Tamil Nadu is 'n droe staat. Dit beteken geen wyn en bier word in winkels verkoop nie (gelukkig ken ons iemand wie se cousin wie se uncle iemand ken met 'n kontak). Mens kan egter wyn en bier in restaurante koop, maar in die geval van wyn is dit teen 'n hoe prys. 'n Bottel Indiese wyn kos enige iets van £25, Australiese of Europese wyn is nog duurder. Ons hou dis meestal by Kingfisher (die local bier). Jy moet egter nie Kingfisher ligtelik bestel nie - dit kom net in 750ml bottels !!

Wel, vanaand gaan ons saam met ons bure 'n nuwe Japanese restaurant uit probeer.

Wednesday, 23 July 2008

Suid van Chennai

Een keer 'n maand probeer ons om vir 'n naweek weg te gaan. So kry ons meer van Indie te sien en glo my die wegkom uit Chennai is nodig vir sanity ! Theo en Marga van Hyderabad het kom kuier en ons is saam na die 3 grootste toeriste attraksies net suid van Chennai. DakshinaChitra, Mamallapuram en Fisherman's Cove.

DakshinaChitra
is 'n kulturele sentrum waar kuns, musiek, huise en tradisies van Suid Indie uitgebeeld word, amper iets soos Kleinplasie.

Is iemand tuis ? Jean klop aan een van die huise se deure by DakshinaCitra.


Inge laat 'n mehendi op haar hand verf by DakshinaChitra.

Moeg toeris gewees !

Mamallapuram is 'n toeriste dorpie en veral bekend vir beelde uitgekerf uit rots - baie indrukwekkend. Stel jou voor Paarl berg uitgekerf in allerhande beelde. Die beelde dateer uit die 7de eeu en is vandag 'n World Heritage Site. Eerste foto is van die Shore tempel, tweede 'n relief van 12m x 30m en dan twee beelde by die Vyf Rathas.





Fisherman's Cove is waar ons gebly het. Salig. Langs die see, pragtige tuin, lieflike challets, swembad en heerlike seekos. Die aand by ete was daar 'n kulkunstenaar om ons te vermaak en Inge het dit baie geniet.




Sunday, 13 July 2008

Matrimonial - bringing people together

Ons kry elke dag The Hindu, een van Indie se bekende koerante. Meestal blaai ek net vinnig deur en lees hier en daar ietsie. Sondae is die Matrimonials egter in die Classifieds en geniet ek dit om lekker rustig daar deur te lees. Die Matrimonials is waar ouers (of in die geval van meisies soms ook hul broers), adverteer om vir hulle kinders 'n toekomstige bruid of bruidegom te soek. "Arranged marriages" is hier nog die norm, maar meer verligte ouers sal darem nie hulle kinders dwing in 'n huwelik nie. Die hele soekery na 'n lewensmaat is egter 'n ingewikkelde proses, waar die hele familie, priester en soms 'n astroloog by betrek word. Hier is 'n paar juweeltjies uit vandag se koerant.

A Brahmin girl 24/165 slim beautiful. Computer Animation professional Mumbai settled, seeks Brahmin handsome boy. Subsect no bar. (Dit beteken die meisie is van die hoogste caste en wil slegs in dieselfde caste trou, maar gee nie om vir rang binne in caste nie, 24 jr en 165 cm lank).

SC 31 MBA 35000 Attractive fair girl seeks Groom Caste no Bar. (Die meisie is al 31, dus effe aan die ou kant vir Indie en is nou bereid om met laer caste ook te trou. Sy is egter 'fair' - ligte gelaat - wat baie belangrik is en sy verdien £435pm, 'n goeie salaris vir Chennai).

Tamil Muslim Rowther MBA/31/180 working in Chennai MNC innocent divorcee in 3 months, seek issueless homely religious graduated bride. (Die ou werk vir 'n 'multi national company' en sy skeisaak sal oor 3 mnde afgehandel wees, volgens sy ouers is hy die onskuldige in die saak - moet se ek het nog nooit gelees van 'n guilty divorcee nie. Die lyk of hulle aansoeke van geskeide meisies sal aanvaar, maar sy moenie kinders he nie (issueless - wat 'n mooi beskrywing), en moet homely wees - vriendelike en warm geaardheid.

Hindu girl, 31/160, seeks alliance from professionally qualified/employed males 31-35/177 min, broad minded, fit, light or wheat complexioned, of good character. Girl born & brought up in US and settled in US, very westernized but down to earth and love spicy Indian food and Indian culture. NRI boys or US settled males preferred. (Dis opvallend hoe baie ouers adverteer vir hulle kinders wat in US, UK, Australie of Dubai bly of ouers wat self ook oorsee bly. Die dat hulle NRI - non resident Indians soek.)

Die vangs van die dag is egter die een (met raampie en al in die koerant):

Affluent Brahmin parents seek alliance for their son 29/182 athletic, handsome fair vegetarian clean habits, MS (MBA) USA citizen. Girl must be extremely beautiful, fair min 135 below 29 educated from modern well to do family from India or abroad. Please respond with photo, date & time of birth, horoscope matching is important. Boy in India for a month.


Tuesday, 8 July 2008

Bestuurders en dinge

Om in Chennai van een plek na 'n ander te gaan, het mens eintlik 'n hele paar keuses. Jy kan stap, maar in 'n stad met geen sypaadjies, baie vullis, koeie, honde, mense wat spoeg sonder om te kyk wie dit gaan tref en waar almal ry waar en hoe hulle wil, is dit 'n gevaarlike en onsmaaklike ervaring. Die grootste meerderheid mense ry bus. Die busse is egter stok oud, vuil en oorvol, met mense wat selfs by deure uithang. Dan is daar die autorickshwa's. Die rit in 'n autorickswa is eintlik heel lekker, maar die betaal slag maak my altyd vies. Voor mens inklim word daar oor die prys onderhandel en ek het al 'n goeie idee van wat dit behoort te wees, maar bloot omdat ek 'n "foreigner" is vertrippel die prys gewoonlik. Aan die begin het ek nie omgegee om ekstra te betaal nie, maar die blatante uitbuitery begin my nou irriteer. Dan kan mens natuurlik jou eie kar of motorfiets bestuur. Inge se grootse wens is om saam met haar pa op 'n motorfiets te ry ! Om self in Indie te bestuur sit egter nie in enige een se broek nie. Japie se maatskappy beveel ook aan dat ons nie self bestuur nie en verskaf dus vir ons 'n kar en betaal ons bestuurder se salaris. Ons moet net self die bestuurder aanstel aangesien hulle nie verantwoordelikheid vir hom wil aanvaar nie en met goeie rede - bestuurders is 'n anderse lot. Baie expat gesprekke gaan oor probleme met bestuurders.

Die afgelope 4 maande het ons 'n bestuurder Baskharan gehad. Hy bestuur goed, eintlik 'n padvark, maar het my altyd vinnig gekry waar ek wil wees en in die verkeer maak dit nogals 'n verskil. Die oggend wat ons Dubai toe gevlieg het, was hy baie laat vir werk, maar het ons op die end in 'n rekord 15 min by die lughawe gekry. 'n Rit wat gewoonlik 30 min of langer neem. Hy was ook baie oulik met die kinders en veral Jean was baie erg oor hom. Baskharan is egter 'n groot opurtunis en nie op 'n goeie manier nie. Heel aan die begin het ons hom al uitgevang dat hy een naweek wat ons weg was, nie die kar by ons plek kom parkeer het nadat hy ons afgelaai het nie, maar heerlik rondgery het. Tien teen een taxi gery en geld gemaak uit die storie. Hy't 'n waarskuwing gekry. Ek het ook begin vermoed dat hy deur die dag rondgery het, want om byvoorbeeld Japie by die werk te gaan aflaai is veronderstel om so 40 min te neem, maar heel gereeld het dit baie langer gevat vir hom om terug te kom. Die laaste strooi was hy wat begin diesel steel het. 'n Lang storie, maar die uiteinde is hy werk nie meer vir ons nie.

Op die oomblik gebruik ons tydelike bestuurders. Dis 'n maatskappy met 'n klomp bestuurders en mens kan enige tyd bel en hulle stuur een en ons betaal hom per uur. Die nadeel is dat hulle die bestuurders gereeld wissel om te voorkom dat ons nie die ou van hulle afrokkel nie. Die afgelope week of wat het ons egter al vir oompie. Dink niemand anders wil hom he nie. Dis sy aftree jobbie, is so 75+ en bestuur ook so. Japie geniet hom baie, want hy praat goed Engels, is goed belese en gesels lekker. Ek hou nie baie van hom nie, hy bestuur my bang, druk permanent die toeter, ken die stad sleg, kies altyd die langste pad en ry dit dan nog stadig ook. (En die ergste van alles - hy help nie dra aan my inkopie sakke nie !!!)

Aan die begin het dit vir my heerlik luuks geklink om iemand te he wat my heeldag rondry. Nou weet ek, luuks is om in jou eie kar te kan klim en te kan ry hoe, waarheen en wanneer jy wil.

Thursday, 3 July 2008

Bouers




Op die oomblik lyk die hele Chennai vir my soos een groot bou projek. Maak nie saak waar ons ry nie, daar is altyd of 'n gebou wat platgeslaan word, nuut gebou word, 'n pad wat opgegrawe word of 'n nuwe pad wat gebou word. Oorkant van waar ons bly, is daar ook 'n gebouery van 'n nuwe woonstelblok aan die gang. Dit was in die begin stadium toe ons ingetrek het, maar die vordering is stadig. Ons gee nie regtig om nie, dis fassinerend om die klomp dop te hou.

Van bouers in SA weet ek nie veel nie. In Engeland het ons bietjie gebou en gebreek in ons huis en met Engelse bouers het ons net tot by die kwotasie stadium gevorder. Hulle is duur en berug vir baie tea breaks en werk wat nooit op tyd klaar kom nie. Die dat ons Mr Wojciech en sy span Pole genader het om die werk vir ons te kom doen. Hulle was great. Die ouens het baie hard gewerk, was nie te duur nie, die vakmanskap was uitstekend en ons het later gespot en gese hulle kan enige iets doen met net 'n hamer en 'n skroewedraaier.

Indiese bouers doen weer letterlik amper alles met net hulle hande. In elk geval die klomp hier oorkant. Hulle werk bitter lang ure, vir baie min geld. Vrouens werk ook ewe hard saam en is gewoonlik verantwoordelik om goed aan te dra soos sand, bakstene en gruis van waar dit afgelaai word tot waar dit nodig is. Hulle dra maklik 10 bakstene op 'n slag op die kop. Baie van die bouwerk lyk vir my nogals gevaarlik. Die bouers het geen beskermsdrag nie, niks op die kop, party kaalvoet en die res plakkies. Die stellasies is dun boomstamme wat met tou aanmekaar gebind word en daarop loop en balanseer hulle totdat ek soms nie meer kan kyk nie.

Vandat ons terug is van vakansie het ek opgelet dat die bousite baie verlate is. Vanoggend toe ek by die venster uitkyk, sien ek 'n opgestopte popman aan die halwe gebou hang, amper soos iemand wat homself opgehang het !! Ek het dit al voorheen by geboue gesien, maar so 'n selfmoord pop op 'n lee maag, het my effe onstel. Ek het bietjie uitgevra oor wat dit nou eintlik beteken, maar het verskillende antwoorde gekry. My opsomming is dat wanneer daar begin bou word, kom doen die Brahmin priesters 'n pooja vir voorspoed (Hindu godsdiens ritueel) waar oa water van die Ganges gesprinkel word op die perseel (dis nou volgens my een bron). Terwyl ons weg was, was daar egter 'n ongeluk, twee mense het geval, een dood en die ander 'n been gebreek. Die res van die bouers glo nou dat dit 'n baie "inauspicious" site is en niemand wil daar werk nie. Die pop moet nou daar hang om dit weer 'n "auspicious" site te maak. Aan die einde van die bouery sal die pop dan weer tydens 'n seromonie verbrand word. Ek het dus die pop Guy gedoop (ter herdenking aan al die Guys wat die kinders elke Guy Falks verbrand) en lyk my hy sal nog vir 'n lang ruk ons buurman wees.

NS. Auspicious is 'n woord wat ek eers regtig hier leer ken het. Mense gebruik dit daagliks. Twee mense wat wil trou sal byvoorbeeld na 'n priester gaan en die sal besluit wanneer dit 'n "auspicious" tyd vir hulle is om te trou. Of hy nou se 2.00 in die nag of 10.00 in die oggend - dis wanneer die troue sal gebeur. Die priester sal ook se wanneer dit 'n "auspicous" tyd is om goud te koop, kar te koop, werk te soek, te vas, enige iets........