Sunday, 21 September 2008

Langs die strate van Parrys

Saterdagoggend het ek en Japie in die strate van Parry's Corner, of sommer net Parrys, gaan stap. Nuwelinge in Chennai mag met die aanhoor van die naam dink aan straat kafee's, pragtige geboue, musiek en inkopie hemel soos in die regte Parys. Dit alles en veel meer is in Chennai se Parrys, net anders.

Parrys is terselfdertyd berug en geliefd in Chennai. Dis die plek waar jy enige iets kan koop, jy moet egter stap, want karre kan nie in die straatjies nie. Daar is 'n straat vir pype, 'n straat vir krane, een vir staal, een vir brille, 'n ander vir potte, nog een vir rokke. Ek was opsoek na tafeldoeke vir Halloween, maar die straat het ons nie gekry nie. Ons het verby 'n skool gestap net toe die kinders uitkom en in
fiets rickshaws klim, oppad huistoe. Parrys het tempels, moskees, kerke, sommer langs mekaar. Ons het verby 'n glaskis met 'n lyk gestap, baie gemors, mense wat op die straat bly, kinders wat gebad word, baie winkels, koeie, ou tannies wat sit, vrouens wat blommetjies vleg voor tempels, mense wat eet by die straatwinkeltjies en mans wat skelm brandewyn drink in hierdie "droe" staat van ons. Ons het gestap, gekyk, gewonder, foto's geneem en toe die hitte te veel raak, 'n fiets rickshaw gekry om ons terug te ry na ons a/c kar en luukse wereld. By Amethyst, 'n lieflike westerse restaurant, het ons in die tuin onder die bome gaan ontbyt eet en gesels oor die lewe.....

Dogtertjies in die fiets rickshaw oppad huis toe.

Die gesin se huis, besem op die dak, wasgoed op die draad, pa en ma wat kaart speel terwyl die kinders op pa se fietswa speel. (Dis nie hulle motorfietse nie.....)

Hoop (dat iemand die eiers sal koop voor die son dit vrot bak)
Geloof (in 'n reis sonder ongelukke op baie besige paaie)
Liefde (vir gekleurde eierhouers ?)

Ek was nie seker wie is die oudste nie, die passasier of die rickshaw bestuurder. (Japie wonder of die passasier nie dalk Mugabe is nie - sy Zim dollars beteken darem nog iets hier. Ek sal eersdaags begin uitkyk vir Mbeki...)

Vanuit ons rickswa. Die man moes hard trap - die sir en madam is effe swaarder as sy gewone kliente. Ons het hom darem goed getip.

Tuesday, 16 September 2008

Net in Indie

Sondagaand net na 10 kry Japie 'n sms van Jean se skool wat lui "School will be closed due to goverment announcement". Hy sms terug "What !! Why ?". Kry boodskap terug "Birth centenary festival of previous Chief Minister Anna."

So 'n dag voor die 100 ste herdenking word daar besluit om dit 'n Tamil Nadu publieke vakansie dag te maak. Die volgende dag lees ek in die koerant dat alle regerings kantore, skole, banke en publieke sektor maatskappye sal gesluit wees en hulle moedig privaat organisasies ook aan om die dag as vakansiedag te verklaar!!!! Wat het geword van beplanning ? Ons weet nou al 100 jaar wat die man se geboortedatum is !! Net in Indie. Wel, die feit dat Jean nie kon skool toe gaan nie, was nie regtig 'n probleem nie. Die Amerikaanse skool het hulle nie aan die afkondiging gesteur nie en Inge kon skool toe gaan soos gewoonlik, maar vir die res van Chennai het dit baie ongerief verskaf. Ons huishulp, Amudha, soos baie ander, het eers van die verwikkeling gehoor toe sy agterkom haar kinders se skoolbus daag nie op nie. O ja, en die koerant het gese die skool kinders wat die dag eksamen sou skryf, sal dit op 'n latere dag doen. Net in Indie.

Onam festival


Vrydag was Onam veesvieringe. Die fees het sy ontstaan in die staat Kerala en is ter ere van koning Mahabali van antieke Kerala. Nuwe klere word op die dag gedra, spesiale kos word geeet en op die grond voor die voordeur word patrone met blomme uitgepak. Ons buurvrou het in Kerala groot geword en die vrolike blompatroon het ons die oggend begroet. Sy en haar 2 dogters (2 Amerikanertjies - aksent, klere, musiek laat geen twyfel nie) het vroeg oggend in hulle tradisionele klere die patroon uitgepak. Dis vir my 'n pragtige tradisie wat so van ma na dogter oorgedra word.

Thursday, 11 September 2008

Inge partytjie


Met al die Ganesha feesvieringe het ek vergeet om foto's van Inge se partytjie op te sit. Siende dat ek nog altyd vir die kinders se verjaarsdae self koek gebak het, wou ek graag vir die een ook een bak. Ek het egter nie kans gesien vir koek bak vir 32 kinders vir die klaspartytjie nie, so ons het 'n paar maatjies van die speelgroep verlede Maandag oorgenooi vir koek en partytjie. Die Amerikaanse skool het vakansie gehad, US Labour Day, so dit was sommer 'n goeie manier om die kinders besig te hou, terwyl ek en die ma's kon kuier.

Sunday, 7 September 2008

Ganesha gaan see toe





Na kerk vanoggend het Japie 'n sms van een van sy kollegas gekry om te se, vandag is die dag wat al die Ganeshas see toe gaan. Ons besluit toe om sommer langs Marina beach huis toe te ry. Wat 'n feestelikheid ! Oral langs die pad het ons verby klein lorries, ossewaens en fietswaentjies gery met groot Ganeshas en baie mense op. Die mense deel dan Indiese 'sweets' uit en bestrooi die pad met blomme, soos hulle ry na die plek waar die Ganeshas in die see gesit word. Ons het die optog gevolg - ek kon nie die foto geleentheid laat verby gaan nie. Kotti, was ook baie entoesiasties om vir ons die feesvierings te wys. By die see aangekom het 2 hyskrane, 'n lang ry Ganeshas en bitter baie mense op ons gewag. Weereens het Indie my verstom - die heel groot Ganeshas word met 'n hyskraan van die lorries af opgelig en voor by die see neergesit. By die see word dit dan in 'n bootjie gelaai en so 10 meter ingevat en dan afgegooi. Eintlik was ek verras oor hoe ordelik alles gebeur het - daar was polisie, weermag, brandweer en versperrings sodat net party mense by die see en die Ganeshas kon uitkom. Japie en die kinders het een kant gaan staan en Kotti het 'n paar woorde met 'n polisieman gewissel en daarna vir my en die kamera begelei tot reg voor by die see. Moet se ek het een slag opgekyk en gesien hoe 'n Ganesha gevaarlik oor my kop swaai en "Ganesha val op dom toeris" het in my gedagtes opgekom. Die prentjie van 'n kleurvolle Ganesha met sy vet pens en handjies in die lug oppad see toe sal my egter lank by bly.

Dis natuurlik nie 'n baie omgewings vriendelike fees nie. Die kleiner Ganeshas word van klei gemaak, maar die groottes van gips en die volgende dag spoel daar blykbaar 'n hele klomp dooie visse uit.


Inge was ook baie geintresseerd oor die klomp olifant beelde en het duisend en een vrae gehad, waarvan almal nie eenvoudige antwoorde het nie. Gelukkig het sy nie gevra ons moet ook 'n Ganesha koop nie !

Skool piekniek




Ons het 'n heerlike naweek agter die rug. Saterdag was dit die skool se jaarlikse "Welcome back" piekniek. Dit was omtrent 'n vrolike besigheid - amper so lekker soos die SA Gemeente se basaar wat toevallig ook die naweek was ! Die kinders het geswem, sokker en basketbal gespeel, vir Mickey en vriende ontmoet en in die parkie gespeel. Ons het lekker gekuier, hamburger, hotdogs, Indiese en Koreaanse kos en baie roomys geeet. Dit was weereens 'n lekker warm dag - gelukkig vir al die tentdakke met skaduwee. Ons al vier was Saterdagaand poegaai !

Friday, 5 September 2008

Ek kook
















Ek kook letterlik en figuurlik. Op iemand se blog het ek gelees sy blog, want dit is goedkoper as terapie. So laat ek 'n bietjie afpak. Daar is 'n paar dinge in Chennai wat my klaar maak, een daarvan is die politici en hulle konvooie. Kyk, op enige goeie dag is die verkeer in Chennai waansinnig. Daar is busse, fietse, motors, motorfietse, autorickshwa, heeltemal te veel vir die paaie en almal druk, toet en ry soos nerens anders as net in Indie nie. Al wat hierdie choas tot 'n stilstand kan bring is 'n poltikus in sy kar. Gewoonlik is dit so vyf karre wat in konvooi ry, een met die belangrike persoon in en die ander met manne wat by die vensters uithang al wuifende en oor luidsprekers verskreeu hulle almal om pad te gee (lyk omtrent soos 'n coup). En glo my almal ry kant toe en stop, nie eens vir 'n ambulans of brandweerwa word dit hier gedoen nie !! Vanoggend het ek bietjie gaan inkopies doen en ek sien die hoofstraat is vol vlaggies. Kotti, die bestuurder vertel dat die Apollo Clinic (Chennai se luukse hospitaal) is 25 jaar en die CM (hier in Indie praat ons net in afkortings, CM - Chief Minister, hoofman van Tamil Nadu) en die PM (Prime Minister) van Indie, Dr Manmohan Singh en Sonia Gandhi (een van die politieke partye se leiers) is in Chennai daarvoor. Ek begin toe ook oplet dat ooral langs die pad is plakkate met hulle gesigte op, elke instansie, insluitende Apollo, het plakkate met - Chennai Welcomes........ Ek weet toe sommer hier kom probleme, maar vergeet weer daarvan. Vanmiddag het ek besluit om vroeg te ry om Inge te gaan oplaai by die skool, sodat Jean bietjie in die skool se parkie kan speel. Ons het skaars weggetrek, of die verkeer gaan staan. Met die local politici is dit so 5 minute dan begin die karre weer ry, nie die keer nie. Ons het gesit en gesit en gebak in die son (is vandag 'n koel 31). Toe begin die manne pee - irritasie no 1 in Chennai - sodra 'n Chennai man uit die huis stap, op 'n fiets, motorfiets klim, wil hy pee, nooit vrouens nie, so daar moet toilette wees, maar nerens kan jy ry sonder om 'n man te sien pee langs die pad nie. Ek praat nie hier van 'n noodgeval nie, net 'n slegte gewoonte. Terwyl ek besig is - irritasie no 2 - is die spoegery, mans en vrouens. Die grootste gevaar is as jy op 'n sypaadjie staan en 'n bus ry verby. Mens sien selfs hoe karre by 'n rooi lig stop, deur gaan oop en iemand spoeg. In elk geval, almal het klaar gepee en ons staan nog steeds en die sweet tap my af. Net toe ek moedeloos raak kom die karre van voor verby gery teen 'n geweldige spoed met flitsende ligte. Kotti se toe "It's the PM, at least 40 cars". Ek het nie die karre getel nie, maar ek dink die 40 karre was baie na aan reg. As hulle bietjie stadiger gery het kon ek dalk die PM afgeneem het, maar nou het ek net foto's van die plakkate om te wys.

Vinayaka Chathurthi




















Woensdag was 'n publieke vakansie dag in Tamil Nadu - Vinayaka Chathurthi - die geboortedag van Lord Ganesha
, die Hindu god met die olifant kop. Ganesha is een van die bekendste Hindu gode en word baie algemeen aanbid vir wysheid en voorspoed. Mens sien hom baie gereeld op kaartjies, winkelvensters, almanakke en voor huise. Op die dag word klei afbeeldings van Ganesha oral langs die pad verkoop, mense koop dit, versier en stal dit uit. Vyf of tien dae later word die beelde dan in 'n optog na die see geneem waar dit in die see gegooi word met 'n wens dat Ganesha die volgende jaar sal terugkom om die mense te seen.

Chennai het 'n sterk Hindu kultuur, mense is baie godsdienstig en mens sien dit oral, elke dag, elke oomblik. Vrouens dra bindi's op hulle voorkoppe, mans verf strepe op hul voorkop afhangende in watter Hindu lyn hulle aanbid, mans dra bandjies om hulle arms as hulle by die tempels was, oral langs die pad word blomme verkoop vir offers, om elke hoek en dra is daar tempels, winkels en hotelle het altyd 'n god beeld in die voorportaal, karre het gewoonlik 'n god beeldjie op die dashboard, Vrydae word pooja's gedoen in kantore. Dis letterlik deel van elke dag se gebeure. Nooit kan jy hier twyfel as jy iemand ontmoet of dit 'n Hindu is of nie. Foto links is van Ganeshas wat verkoop is oppad na Inge se skool en foto regs is Gansesh op Jean se skool gebou. Laat my dink.