Tuesday, 14 October 2008

Monsoon

Die Monsoon is hier ! Vir die res van Indie is Monsoon tyd van Junie tot September. Hier in Chennai moet ons wag tot Oktober. In Bollywood flieks is daar altyd 'n stukkie waar mense buite in die reen dans en lag en ek moet se die Monsoon bring nogals 'n vrolike gevoel saam. Na die maande en maande se geweldige hitte en humiede weer, bring die reen voorwaar 'n lafenis. Die monsoon kom ook nie stil-stil nie - dis donderslae, weerlig en harde buie reen. 'n Harde reenbui hou egter nooit lank aan nie en as mens tyd en geduld het, moet jy bloot 'n rukkie onder iets skuil. Ek was egter bietjie stadig om dit te leer en het Sondag van die kerk tot die kar sop-sop-sopnat gereen. Koti het net sy kop geskud en gese "Madam - just wait!". As die reen so hard val, is dit net 'n paar minute dan verander die paaie in riviere. Lyk nie of hier juis dreineringsisteme is nie. Langs die pad is dit 'n vrolike spul. Die motorfiets en fietsryers stop almal en skuil van die reen onder hulle sambrele. Die haastiges ry met saambreel en al op die fiets/motorfiets. Wel, as dit reen is die verkeer so stadig dat 'n oop sambreel nie juis pla nie. Die onvoorbereide haastiges reen natuurlik lekker nat. Dis steeds glad nie koud buite nie, maar ek dink vandag is sover my koelste dag in Chennai - 'n gemaklike 26C. Lekker herfsweer.

Sunday, 12 October 2008

Diwali Mela


Saterdagaand was Diwali Mela (Fees van die ligte viering) by Inge se skool. Eintlik is Diwali vanjaar eers 27 Oktober, maar dan is dit ook skoolvakansie. Die drag was Indian Casual. Ons en amper al die ander nuwelinge by die skool is die oggend Fabindia toe om te gaan klere koop. Fabindia is 'n bekende winkel met informele Indiese klere, mooi linne, gordyne ens. Die inkopie uitstappie was baie suksesvol en Japie het 'n nuwe kurta gekry, Jean 'n pajama broek en Inge 'n romp, toppie en dupatta (serp). Wel, Japie se kurta is 'n korte, so lyk eintlik maar soos enige ander hemp. Jean het al 'n lang kurta gehad en saam met die pajama broek (wyd bo met lang nou pype) het hy pragtig gelyk. Ek het een van my vele mini kurta's aangehad en Inge was die ster van die aand met selfs jasmyn blommetjies in haar hare.
















Die Mela self was heerlik. Die skool was pragtig versier met Sari's wat van die boonste verdiepings af gehang het en baie liggies. Die kinders het sonder einde saam met hulle maatjies rondgehardloop en gespeel op die gras. Daar was Indiese danse in die gimnasium, maar die kinders wou net speel. Ons het 'n heerlike Indiese ete gekry en alles is afgesluit met 'n groot vuurwerkvertoning.

Friday, 10 October 2008

Feeste, feeste en feeste

Oktober is die maand van feeste. Elke paar dae word 'n ander fees gevier, altyd mooi kleurvol, interessant en lawaaierig. Ek kan nie lekker tred hou met al die name en redes nie, maar hier is 'n paar foto's en my weergawe daarvan.

Navratri - Festival of the dolls - Die fees van die poppies is deel van Navratri wat oor 9 nagte en tien dae gevier word. Dit is ter viering van die 9 verskillende vorme van vroulike godheid. In Hindu huise stal die moeders poppies uit om die fees te vier. Een van die godinne is Saraswati - godin van kennis, musiek en kunste en dus word die fees ook in skole gevier. Die poppies word op verskillende vlakke uitgestal om die verskillende stadiums van Hindu spiratuliteit te simboliseer. Onder is diere, dan gewone mense (by Jean se skooluitstalling was dit mannetjies wat krieket speel), dan gewoonlik priesters en laaste die gode.

Ayudha puja - De puja word op die laaste aand van Navratri gedoen, wat in Chennai Woensdag was, en is om die implemente wat in 'n persoon se daaglikse lewe gebruik word, te vereer. Vir kinders is dit skoolboeke, bestuurders hul karre, kantoorwerkers hul kantoor en rekenaars, tuiniers hul graaf en vurk en ou mense hul TV's. Die goed word dan versier en die idee is dat dit vir 'n dag lank nie gebruik moet word nie. Die dat die staatskole en meeste besighede 'n vakansiedag gehad het.

Koti het ons kar blinker as ooit skoongemaak, die puja by die kantoor gaan doen en die kar het teruggekom, versier met blomme en bindhi's ooral op die kar.

Die aouto rikshwas word pragtig versier met blomme en piesangblare. Al die blertsies op die vensters is bindhi's.

Die bouers oorkant ons huis het natuurlik uitgehang vir die fees. Kyk die vlaggies, piesangblare en piesangtrosse ! Ja, ou Guy hang nog steeds.....

Japie se kantoor versierings.

Winkels word ook versier - Amma Naana - die winkel waar ons al ons Westerse kos koop.

Monday, 6 October 2008

Sondae in Chennai

















Die madams van Chennai maak nie kos op 'n Sondag nie. Dis nie dat ons lui is nie, want watter groter plesier is daar as om vroeg op te staan terwyl die res van die huis nog slaap, aartappels te skil, die boud in die oond te sit, poeding reg te kry en dit alles voor kerk, sodat die kos reg is vir 12 uur ? Dis net, "when in Rome......" Daar is 2 keuses hier - Sondag brunch of Ideal Beach. Hier is 'n verskeidenheid van hotelle wat 'n Sondag brunch het. Die eerste keer wat ons gegaan het, was ons verras dat dit eers 12:00 begin het en ons het bacon, eiers en croissants verwag. Die was wel daar in 'n hoekie, maar ook
alle ander soorte kosse. Party disse word buffet styl voorgesit, soos die slaaie, groente, kase, Indiese kos en ander kosse, soos steak, hamburger, vis, prawns, pasta, pizza bestel mens by stalletjies en dit word vars voorberei. Dan is daar natuurlik die poeding tafel ! Ons gunsteling brunch is by die Courtyard Marriot, siende dat daar ook 'n bouncy castle, gesigverf, ballonne en towernaar is om die kinders besig te hou terwyl ek en Japie rustig kan sit en eet. Dis dan ook by ons eerste brunch hier, wat ons besef het, dat Indie nie net goeie dinge vir die kinders gaan leer nie. Jean het baie gou agtergekom dat daar 'n menigte is wat staan en wag om hom te bedien. Vinnig het hy begin om net sy vingertjie na 'n ballon, koeldrank of roomys te wys en dit word vir hom gebring.















Wel, ons kan nie elke Sondag net eet nie, so
Ideal Beach is 'n goeie alternatief en die kinders se gunsteling. Ideal Beach is amper 'n uur se ry van ons af en dit is die enigste resort wat dagbesoekers toelaat. Daar gekom gaan sit ons altyd eers op die strand onder die palmbome en as dit nie te warm is nie, kan ons, ons voete gaan nat maak in die see (nie regtig vir swem nie, te gevaarlik). Vir middagete gaan ons na die restaurant langs die swembad en na ete is dit swemtyd (want dan is die swembad in die skadu !). Laat middag as ons terugry, vang die ander altyd 'n lekker slapie in die kar. Ek moet natuurlik wakker bly om te help kyk dat ons uit die pad bly van koeie, busse, fietse, karre en bokke.

Friday, 3 October 2008

Jean skool konsert

Gister was 'n vakansie dag om Gandhi se verjaarsdag te vier. Japie moes ongelukkig gaan werk, maar was betyds terug vir die hoogtepunt van die dag - Jean se skoolkonsert om hulle 2de bestaansjaar te vier. Dit was 'n groot geleentheid, in 'n spesiale saal met die Amerikaanse Consul General wat dit geopen het......

Die uitnodiging het gese ons moet 4pm sit, maar aangesien dit Indie die is en 'n local skool het ons gedink ons hoef nie te stiptelik te wees nie. Wel, weereens het ons besef ons verstaan nog nie Indie tyd nie, want toe ons net na 4pm daar aankom, was ons van die laastes om op te daag !! Die meeste kinders in die skool is so tussen 1 en 4 jaar en het pragtig konsert gehou. Jean en sy maatjies het 'n ABC liedjie gesing en elkeen het 'n beurt gekry om voor te staan met sy letter (Jean met J). Jean was 'n ster en het sy oomblik baie geniet. Hy het dit so baie geniet, dat toe die volgende groep opgaan, het hy besluit hy wil weer en 'n het pragtig gaan saam dans. Die ouers is gevra om nie foto's en videos te neem nie, so ek het ongelukkig niks om te wys nie. Daar was egter fotograwe so hopelik kan ek binnekort van hulle foto's opsit.