Sunday, 30 November 2008

Die son skyn weer














Gister het die son begin om by tye deur te breek en vandag skyn die son weer heerlik en dit lyk of die groot reen verby is. Oral langs die paaie hang mense hulle huisdinge in die son om droog te word. Vrydag was die skole steeds almal gesluit. Ek het besluit om die reen te trotseer en is met die kinders na een van die binnehuise speelplekke. Moet se ek het nie besef die strate was so toe onder die water nie, maar ons het deurgedruk en darem 'n paar foto's ook kon neem.

Ek skat plek plek sal die water nog vir 'n ruk so staan, wat vir ons 2 slegte dinge beteken. Muskiete en 'n vrot klankie in die lug. Die vullisverwyderings sisteem werk hier bietjie anders. Hier is nie wheelie bins wat sekere dae van die week uitgesit word nie. Ons bly seker in Chennai se poshste woonbuurt, maar selfs hier gooi almal hul vuilgoed op hope langs/in die strate. Die word dan gewoonlik weekliks verwyder. Wel, op die beste van tye stink so 'n hoop vuilgoed en as dit nat is net soveel erger.......

Thursday, 27 November 2008

Chaos - Chennai en Mumbai

Ons het vanoggend wakker geword in 'n chaostiese Indie. Laat ek begin met Chennai, dis 'n makliker storie.

Sikloon Nisha het Chennai vannag getref en woed oor 'n groot deel van die Tamil Nadu kus. Eintlik het die reen al Dinsdag begin en gister was reeds baie skole, insluitende Jean s'n, gesluit. Deur die nag het die reen aangehou en paaie is heeltemal oorstroom. Alle skole en baie kantore was vandag gesluit. Japie het eers uitgevind dat hulle kantoor ook gesluit is, toe hy daar aankom, maar getrou aan sy aard het hy heeldag gebly en gewerk. Ek en die kinders het eintlik 'n lekker dag by die huis gehad. Kersversierings gemaak, fliek gekyk (Lion King 2 maal - Jean se gunsteling tans) en koek gebak. Meeste mense in Chennai het egter 'n baie moeilike dag gehad. Motorfietse (die vervoermiddel van meeste) laat almal sopnat, huise is oorstroom en die dodetal oor die hele Tamil Nadu staan op 51. Sikloon Nisha word egter heeltemal oorskadu deur die gebeure in Mumbai.

Mumbai. 125 dood. 327 beseer. Sedert ons in Indie aangekom het, is dit die 5de terreur aanval in 'n Indiese stad. Die ander het by my verbygegaan en nie juis geraak nie. Al is Mumbai baie ver laat dit my steeds onrustig. Anders as vorige kere, was die aanvalle die keer gemik op toeriste plekke en baie goed georganiseerd. Wel, ek sal kies om positief te bly en te weet dat in 'n land van 1 biljoen mense is 125 nie baie nie en ons hopelik steeds veilig.

Die Taj Mahal Palace - een van die 2 hotelle wat nou so deurloop - het eintlik 'n pragtige storie. Blykbaar het Jamsetji Tata (die stigter van die Tata groep) die luukse Taj hotel laat bou, nadat hy toegang geweier is tot die "whites only" Watson hotel, die beste hotel in die stad op daardie stadium. Die Watson hotel bestaan nie meer nie, maar die Taj Palace, wat sy deure in 1903 geopen het, is nou die vlagskip van die Taj hotel groep waar konings en presidente oornag en die res van ons nog wou gaan tee drink het.

Op 'n beter noot - Kotti is terug op sy pos en ons baie verlig.

Wednesday, 26 November 2008

Weer bestuurders

Nog 'n jaar in Indie en ek kan 'n boek skryf oor bestuurders. Hulle is 'n unieke klomp. 'n Goeie bestuurder is goud werd en doen baie meer as net motor bestuur. 'n Goeie bestuurder kan redelike Engels praat, is altyd betyds om sir 7am werk toe te neem, hy was die kar vroeg oggend en zap al die muskiete wat in die kar oornag het, sorg dat die kinders vas is in hul karstoeltjies en sit die A/C aan (baie koud as sir alleen ry, bietjie warmer as madam en die kinders ook in die kar is). Anders as die res van al die motoriste, moet hy ry, sonder om die toeter te veel te druk, rustig genoeg sodat madam nie senuagtig raak nie, maar ook vinnig genoeg om almal betyds by hul bestemmings te kry. Inkopie tyd moet hy weet waar is al die winkels, help om die sakke te dra, niks se as madam baie koop nie en by die kinders in die kar bly as madam net 'vinnig' gaan brood koop. Hy moenie spoeg, burp of poep in die kar nie. Soms moet hy op sy eie gaan eiers koop, rekeninge betaal, kinders skool toe vat en briewe pos. In die aande moet hy op kort kennisgewing beskikbaar wees om tot laat te werk. As iemand 2am op die lughawe gehaal moet word, moet hy sommer in die kar slaap om betyds te wees. Hy moenie elke week vir 'n 'loan' vra nie - veral nie as hy nog afbetaal aan die vorige een nie. Dan die heel belangrikste - hy moet altyd 'n selfoon he wat werk en aan is !

'n Bestuurder werk lang ure, hy sien hoe ons meer geld uitgee op een ete as wat hy in 'n week verdien. En aan die einde van die dag, stap hy na die busstop of klim hy op sy motorfiets huistoe. Nie altyd maklik nie. Ek het nou die dag die storie gehoor van 'n bestuurder wat hom so vererg het vir sy madam se aanmerkings oor hoe hy bestuur, dat hy in die middel van 'n besige pad, uit die kar geklim en geloop het.

Goeie bestuurders is skaars. Hulle het darem nie net swaar nie. Gemeet aan Chennai standaarde kry hulle 'n goeie middelklas salaris en baie tips. Groot dele van die dag sit hulle iewers en wag, so daar is baie tyd vir praatjies maak, chai drink, tiffins eet en dvd's kyk. Meeste karre hier het dvd spelers. Aan die begin het ek ook gevra hoekom, die kinders kan mos by die huis tv kyk - wel, dis sodat bestuurder en pelle kan dvd's kyk ! Soms moet ek se, as die klomp bymekaar is, is hulle erger as tienerseuns in hul pa se karre. Ek het selfs al gehoor van bestuurders wat nee gese het vir 'n werk met 'n goeie salaris, net omdat die familie se kar hom nie aanstaan/nie by sy status pas nie.

Ons het al 'n hele klomp bestuurders gehad. Eers was daar die dieseldief, daarna 'n string tydelike ouens, insluitende oompie Raman en Babu. Ons het genoeg gehad van sukkel met karre en bestuurders en het Europcar gekry om kar en bestuurder vir ons te reel. Die eerste bestuurder wat hulle ons gegee het, het net 'n week gehou en ons amper ons Kerala vakansie gekos. Daarna het Kotti begin. Kotti is 'n goed, hy voldoen aan meeste vereistes. Sy oom is egter Saterdag oorlede, hy na die begrafnis en sedertdien het ons nog nie weer van hom gehoor nie - selfoon se "no". Ons het tans weer tydelike bestuurders, die dat ek vandag besin oor goeie bestuurders.

Security hier onder se Kotti het laat weet hy sal more terug wees. Nou waarom nie vir ons bel nie ? Miskien is sy selfoon regtig stukkend en ken sy suster, se auntie, se uncle die dobi wat hier langs die straat stryk en het die gevra dat die chai verkoper op sy fiets 'n boodskap vir security by die hek moet gee, om vir ons te se. Wie weet - ek twyfel egter.

Sunday, 23 November 2008

Smiling Schoolgirls


Elke jaar hou Global Adjustments ('n relocation agentskap wat ons look-see visit in Chennai gereel het) 'n expat foto kompetisie - Beautiful India. Daar was 4 afdelings - places, faces, culture and into India. Ek het deur my 100de Indie foto's gekyk en 'n paar ingeskryf. Wel, die kompetisie was natuurlik baie straf - 500+ foto's is oor al die afdelings ingeskryf. Ek het egter my familie se brunch in die Taj Coromandel verdien - Smiling Schoolgirls - het 2de gekom in die faces afdeling !

Tuesday, 18 November 2008

Speelgroep



Elke Dinsdagmiddag is dit tyd vir OWC speelgroep. Die eerste Dinsdag van die maand is dit by die skool se speelgrond en die res van die tyd maak ons beurte by ons huise. Die eerste keer het ons beurt geval in die groot skoolvakansie, so daar was net 'n paar mammas en kinders. Vandag was dit weer ons beurt en daar was baie maatjies ! Ek het na die tyd gaan tel - op 'n stadium was ons 48 siele in die huis. Kyk al die skoene voor die deur.


Dis gewoonte hier om skoene uit te trek voor jy in iemand se huis in gaan om nie stof in te trap nie. In Engeland doen party mense dit ook in die winter, maar hier moet ons ook by sommige winkels, Jean se skool, gim, tandarts en natuurlik tempels skoene uittrek. Gelukkig, dra ons net sandale, so mens hoef nooit te wonder of jou sokkies heel is nie.

Sunday, 16 November 2008

Afskeid














Een van die moeiliker dele van bly in Chennai as 'n expat, is dat mens gereeld moet afskeid neem. Expats hier bly gewoonlik tussen 1 tot 3 jaar, so daar is altyd nuwe mense wat kom en oues wat gaan. Ek sukkel nog met die kort termyn vriendskappe. Siende dat mense so baie kom en gaan, maak mense vinnig vriende en nuwelinge word altyd hartlik verwelkom, maar daar kom ook altyd 'n afskeid. Vandag het ons afskeid geneem van 'n familie met wie ons goed bevriend geraak het en baie lekker saam gekuier het. Wel, die lekker deel was, dat dit in die vorm van 'n braai was - ons eerste braai in Chennai ! Ons was 5 families saam, almal met kinders, lekker kos, koue bier en 'n heerlike saam kuier. Die ander voordeel is dat teen die tyd wat ons hier weggaan behoort ons kuier plek in Oostenryk, Finland, Belgie, Australie, Amerika, Swede en natuurlik Chennai te he !

Ons eerste Hindu troue


















Een van Japie se kollegas, se broer, het so maand gelede iewers in die suide getrou waar sy vrou se familie bly. Gisteraand het hulle 'n tweede onthaal hier in Chennai gehad, waarheen ons ook genooi is. Die foto bo links, is van die pragtige uitnodiging wat ons gekry het. Dit was 'n lekker verkorte weergawe van die oorspronklike troue en daar was ook nie so vreeslik baie mense nie. So 'n goeie geleentheid vir ons eerste blootstelling aan 'n Hindu troue.

Met die ry soontoe het ek vir die kinders gepreek om vriendelik te antwoord op die vraag "what's your name?", nie gesigte te trek as hulle in die gesig geknyp word nie, en veral nie sies te se vir kos wat hulle nie eet nie !! Wel, hulle was perfekte gaste. Inge se net 5 mense het haar geknyp en Jean het die chapati's baie geniet.

Die saal buite was pragtig versier met mango blare, liggies en 'n tafel met allerhande beeldjies uitgekerf uit groente. Buite was daar ook 'n bouncy castle en klomp vermaak vir die kinders, maar ongelukkig het dit gereen, so ons is dadelik na binne. Binne het ons in 'n saal gesit en terwyl ons gewag het vir die bruid, het die kinders prentjies op hulle hande laat verf en ek het 'n mehendi op my hand laat doen (dit word gese dat hoe donkerder die mehendi uitkom hoe liewer is jou man vir jou.....) Met die bruid se koms het sy en die bruidegom voor in die saal gaan staan, mense het vir hulle geskenke gegee en fotos saam met hulle laat neem. Japie het voor die tyd by sy werk rondgevra wat se geskenk ons moet gee. Almal het gese 'n silwer houertjie waarin mens olie gooi en dan laat brand, vir nie meer as INR500 nie. Ons is dus Saterdagoggend na 'n juwelier om die te gaan koop. Daar kon ons kies uit 'n groot verskeidenheid, die potjies is geweeg en die prys word dan uitgewerk volgens die huidige prys van silwer. Die juwelier se groot besigheid is goue juwele en ek het besef ons familie gaan baie af steek die aand. Hier in Chennai word 'n familie se welvaart geken aan hoeveel goue juwele die vroue dra. Die bruid het dan ook pragtig gelyk en is versier met goue juwele aan die arms, nek, kop en ore. Wel, miskien is goud nie vir my nie, maar ek het aan Japie genoem dat Kersfees kom nader en soos altyd.... when in Rome....














Na die geskenk gee en foto sessie, het die mense stuk stuk na die eetsaal onder gegaan. Daar is lang rye tafels gedek, met die kos op piesangblare bedien. Ons is die eerste westerlinge wat van die spesiefieke kok se kos geeet het, so hy het met groot afwagting gestaan en kyk of ons sy kos gaan eet en geniet. Koti, ons bestuurder is ook genooi om saam onthaal te hou, so hy het met net soveel entoesiasme vir ons vertel van die verskillende kosse en was baie in sy skik dat ons dit geniet het. Die kos was regtig baie lekker en 'n dag later kan ek ook getuig dat die kos ons geen latere probleme gegee het nie. Na ete is ons huis toe. Nou hou ek duimvas vir 'n uitnodiging vir 'n volledige troue. Dan sal ek my Sari aantrek en die familie juwele aansit !

Monday, 10 November 2008

Halloween


This is halloween, this is halloween,
halloween, halloween, ha, ha, ha !



Laas week het ons gehalloween dat dit by my ore uitloop. Nog nooit het ek enige erg gehad aan halloween nie, maar Inge is by 'n Amerikaanse skool en vir hulle is dit 'n groot ding. Blykbaar in die US word huise versier soos dit in UK gedoen word vir Kersfees ! Eintlik het ons halloween al in Disneyland begin. Daar was oral pampoenmense wat besig was om Disneyland oranje te verf. Terwyl ons weg was het die OWC vir die kinders 'n halloween arts and craft middag gehad en die volgende dag sou hulle gaan trick or treat. Die trick or treat het uit gemonsoon, so ons eerste Woendag terug het ons na skool gaan trick or treat. Dit was hier in ons woonbuurt, ons het 'n kaart gekry met waar om te gaan en het saam met die ander 150 kinders, almal in kostuums, die woonbuurt ingevaar. Die locals het omtrent van hulle fietse afgeval om die gedoente te aanskou. Inge en Jean het met 'n sak vol sweets by die huis gekom. Donderdag het Inge in haar klas 'n halloween carnival gehad. Ek moes oranje spaghetti maak vir die kinders om spinnekoppe, bats en spokies daaruit te vis en Vrydag het hulle 'n halloween parade gehad vir die hele Elementary skool. Nou weet ek ook.

This is halloween, this is halloween,
halloween, halloween, ha, ha, ha !

NS. Vir volgende jaar sal ek bietjie navors wat presies halloween beteken en waar dit sy oorsprong het, maar vir vanjaar het ons net die pret geniet.

Saturday, 8 November 2008

Terug van 'home leave'

















Na 'n heerlike 2 weke in Engeland is ons terug in Chennai - home sweet home - ja, nogals die keer. Eintlik is ons al 'n week terug, maar tussen jetlag en al die kinders se aktiwiteite het ek geen kans gekry vir blog nie.

Nog nooit is ons so sleg gevang deur jetlag nie. Met UK wintertyd, verskil Indie en die UK nou 5.5 ure en ons lywe se horlosies sukkel om aan te beweeg. 9pm in die aande kry die kinders hulle 2e asem en in die oggende moet ek hulle uit die beddens sleep. Inge het gese die naweek wil sy net slaap en slaap en slaap.

Die Engeland kuier was baie lekker - die weersiens tussen die 4 niggies en nefies was groot en ons het dit baie geniet by die Salta's. Ons was gelukkig om saam met baie van ons vriende in Engeland te kon kuier en een Sondag na die SA kerk te kon gaan. Die ander hoogte punte was slaap onder 'n duvet, stap in die luukse winkels, self bestuur (Ciska was baie braaf en het haar vinnige kar vir ons geleen), baie vleis eet, 'n besoek aan Westcott en al die herfsblare wat die wereld daar versier. Ons was ook vir 'n paar dae na EuroDisney wat ons almal baie geniet het. Ons ander het egter vir Jean so uitgeput dat hy later gesmeek het - bed toe ! Gewoonlik is dit 'n stryd om hom in die bed te kry.

Ja, en die keer kan ek regtig se dis lekker om terug te wees. Koti se vriendelike gesig het ons 3am op die lughawe ingewag. Die weer is heerlik koel - selde warmer as 30 C. Wel, dit is immers amper winter hier. Nadat Inge baie swaar afskeid geneem het van almal in Engeland is sy weer tevrede en gelukkig by haar maatjies in die skool. Amudha is weer op haar pos en maak die huis pragtig skoon. Ons het nie een vervelige oomblik nie en is lekker besig en oor 'n maand kom my pa en ma kuier.