Thursday, 15 January 2009

Happy Pongal

Pongal is 'n oesfees wat deur alle Tamils gevier word. Anders as Diwali gaan dit nie met 'n groot klomp geraas gepaard nie, maar dis 'n vrolike familie fees, met baie kleurvolle rituele wat oor 4 dae strek.

Die eerste dag word alle ou klere in die huis bymekaar gemaak en aan die brand gesteek. Die 2e dag word Pongal gemaak. Basies is dit rys, melk en jaggery (klonte geel suiker) wat in 'n klei pot buite op 'n vuur gekook word, tot dit oorkook en almal skree dan Pongal ! Blykbaar is die oorkook baie belangrik, want dit simboliseer oorvloed vir die volgende jaar. Elkeen eet 'n bietjie van die Pongal en die res word buite neergesit vir die diere en natuur. Amudha het gister by die huis vir ons ook Pongal gemaak. Ons albei is Christene so het besluit die oorkook op die stoof gaan net morsig wees, so dit was net sodat ek en die kinders kon proe. Haar resep - rooster 1/2 koppie geel dahl/lensies en 1 koppie rys, gooi 2 koppies water by, laat kook, gooi dan baie ghee/clarified butter by, intussen braai cashew neute en rosyntjies in ghee en gooi by rys - Pongal ! Soet rys, nogals interessant, amper 'n fudge smaak.

Dag 3 word die koeie vereer, omdat hulle gehelp het met die oes. Die koeie word versier met blomme en klokkies en hul horings word geverf. Die laaste dag van Pongal is net 'n groot gekuier oor en weer.

Die mooiste deel van Pongal vir my is al die rangolis. Rongolis is patrone wat voor huise met gekleurde rysmeel gemaak word. Tydens Pongal staan die vrouens blykbaar al 4am op, om die rangolis te maak voor die gode begin wandel. Dit verseker dan dat die gode sien hier bly 'n goeie, flukse vrou, wat geseen moet word. Vandag was 'n vakansie dag en ek en die kinders het vroeg oggend in ons buurt gaan stap om al die kunswerke te bewonder.

Ongelukkig kon ek geen mooi foto's neem nie (het 'n paar met selfoon probeer neem, maar kon dit nog nie afgelaai kry nie). My kamera is by Japie wat tans in Rajasthan rond karjakker saam met sy pa, Bennie en Grant. Hulle is nou halfpad met hul Delhi-Agra-Ranthambore National Park-Jaipur-Pushkar-Udapuir-Jodphur toer. Behalwe vir die feit dat hulle weer geen tiere gesien het nie, 'n paar Delhi-bellies, 'n nors bestuurder, baie vroee oggende, elke nag in 'n ander bed, klink dit of hulle Indie nog geniet en besig is om 'n hele paar aande se stories en fotos bymekaar te maak.