Thursday, 26 February 2009

Vyande in Chennai

Hoekom juis nou, weet ek nie, maar ons word die afgelope paar weke elke oomblik deur muskiete aangeval. Kotti is vas oortuig die rede is ons nuwe plek (hy hou nie van die nuwe plek nie - die sekuriteit dra nie skoene nie, vat lank om die hek oop te maak en hy moet soms selfs uit die kar klim om die hek oop te maak !! Hy kla - no good, not professional). Ek is nie so seker nie, die muskiete byt my ooral - by die huis, skool, in die kar, in winkels en natuurlik elke keer as ek dit buite waag. Soos muskiete maar is, is dit op die ergste laat in die middag. Die muskiete is veronderstel om nie van die malaria soort te wees nie, maar ek weet van een of twee mense hier wat dengue fever gekry het. Ons nuwe buurtannie se die muskiete sal weg gaan sodra die hitte kom. Ek wil defnitief nie wens vir die hitte nie, so ek het nou al die wapens op die mark teen hierdie vyand. Gelukkig het ons al ons kuiergaste uit SA goed bang gepraat oor muskiete en het nou 'n kas vol Tabbard. My gunsteling wapen is egter die "Hunter - Mosquito Terminator". Met eerste oogopslag lyk die outjie heel onskuldig amper soos 'n kinder tennisraket. Dis egter enige muskiet se einde. Die Hunter werk met 2 batterye en met die druk van 'n rooi knoppie, terwyl 'n muskiet teen hom vlieg, spat die vonke. Min dinge gee my soveel genot !! Ongelukkig werk die Hunter nie op vliee nie. Hulle vlieg te vinnig en ek soos 'n windmeul agterna. 'n Muskiet is egter besonders stadig en ek skat dom - maklike teikens. Aan die begin was ek bang die kinders sal met die raket wil speel, maar dit was net nodig om hulle een keer te wys hoe spat die vonke uit 'n muskietlyf. Jean het so 'n heilige vrees vir die ding, dat hy geensins daaraan wil vat nie. As ek vra hy moet dit gou vir my gaan haal, sal hy net vir my wys waar dit is en terwyl ek dit gaan haal, die muskiet dophou sodat dit nie ontsnap nie. Ons het nou 3 Hunters - een in die kar, een by die rekenaar en een wat deur die huis swerf. Teen Rs300 was dit een van my beste Indie kopies.

Tuesday, 24 February 2009

Jai Ho! Chennai het 'n nuwe hero!

Vandat Slumdog Millionaire 'n paar weke terug hier begin wys het, was dit 'n kontroversiele onderwerp. Die "Us vs Them" of "Bollywood vs Hollywood" debat is oor en oor gevoer. Die fliek se kritici het gekla dat Indie weereens uitgebeeld word as net 'n land van slums, armoede en korrupsie en dit juis in 'n tyd dat Indie een van die min lande is wat ekonomies suksesvol is ten spyte van die wereld se moeilike tye.

Gister het almal in Chennai egter fees gevier en vandag kan die koerante nie uitgepraat raak oor Chennai se nuwe hero nie. AR Rahman, seun van Chennai (nou Mumbai) het 2 Oscars gewen. Een vir die beste temaliedjie en nog een vir beste klankbaan.

Monday, 23 February 2009

'n Jaar in Chennai

Vandag 'n jaar gelede het ek en die kinders in Chennai aangeland. Dit was 'n goeie jaar. Ons vakansies en naweke weg was elkeen 'n onvergeetlike hoogtepunt, ook Inge se skool se baie aktiwiteite, die nuwe vriende wat ons gemaak het en die baie hulp wat ek hier het.

Ek eet nou graag palak paneer, parathas, briyani, kulfi, vadas, dosas, moilee fish curry, tandoori en indian sweets. Ek ken die verskil tussen Ganesha, Ram en Shiva. Ek herken die name van die groot Bollywood sterre en het al baie van hulle flieks gesien. Diwali en Pongal sal nie ooit weer sommer net nog 'n dag op my kalender wees nie. Ek het begin yoga doen en more is my eerste Bollywood dans klas (!) Ek weet waarvoor staan IPL, INR, NRI, PIO, SRK en MNC. Van nou af sal ek graag vir elke kuiergas 'n blomme kolam of rangoli wil maak en ek sal graag na nog baie Bharatanatyam dansvertonings wil gaan. Ek het al 'n kurta gedra, maar nog nooit 'n sari, salwar kameez of dupatta nie en verseker nie 'n dothi, lungi of pajama broek nie, dit is net vir die manne. Ek het geleer dat mens kan oorleef sonder 'n supermark, dat die expat lewe is baie opwindend met baie voordele, dat daar wel lande is waar Coke nie koning is nie en dat klein kindertjies gelukkig is daar waar hul ouers gelukkig is.

Natuurlik was daar ook die moeilike dae en eindelose frustrasies. Meer as eenkeer het ek gevoel ek kan nie 'n dag langer hier bly nie. Die hitte in Chennai kan ondraaglik raak, die verkeer is pure malligheid en moenie dat ek begin met "Indian good" nie. Ek smag na 'n ordentlike steak, slaai sonder allerhande gogatjies en 'n stukkie peperment yskastert.

Die een groot skadu oor die besonders jaar, is dat nadat ons verlede jaar aansoek gedoen het vir Britse burgerskap, het ons so 'n week terug gehoor dit is afgekeur. Dit was en is steeds 'n baie groot teleurstelling. In die lig hiervan lyk dit of ons dalk 'n baie hoe prys betaal het vir ons jaar in Indie. Was Indie dit werd ? Net tyd sal seker kan leer. Een ding wat egter seker is, is dat die wereld vandag 'n ander plek is as 'n jaar gelede.

Wednesday, 18 February 2009

The White Tiger

In die afgelope jaar van blog het ek al baie te se gehad oor bestuurders - selfs dat ek eendag 'n boek sal kan skryf oor hulle. Helaas, ek is voorgespring deur Aravind Adiga met sy boek The White Tiger, waarvoor hy boonop The Man Booker Prize vir 2008 gewen het !

Net soos Slumdog Millionaire beeld dit die donkerder kant van Indie op 'n (soms galge) humoristiese manier uit, uit die oogpunt van 'n ex-bestuurder. Die boek lees lekker, gee 'n paar interessante insigte oor Indie, ek het dit baie geniet en sal dit defnitief aanbeveel.

Monday, 16 February 2009

Naweek by die see






Valentysdag is gewoonlik nie groot op ons kalender nie. Vanjaar het ons besluit om bietjie weg te breek van die norm en terselfdertyd amper 1 jaar in Indie te vier en is vir die naweek na Fisherman's Cove. Dit was 'n heerlike wegbreek. Die weer is nog nie te warm nie en ons kon heerlik spring in die branders, kastele bou in die sand, afkoel in die swembad en seekos eet.

'n Pienk Valentynsdag

Vir die gelukkiges beteken Valentynsdag rooi rose, sjokolade en kerslig etes. Vir die res is dit maar net nog 'n gewone dag. In Indie gaan Valentysdag egter altyd gepaard met konflik wat die afgelope tyd weer baie publisiteit in die media gekry het. Aan die een kant is daar die selfaangestelde morele polisie groepe wat dreig om jong paartjies wat uitgaan op die dag aan te val of te dwing om daar en dan te trou (volgens hulle is enige ongetroude vrou wat uitgaan na publieke plekke vir ontspanning immoreel). Aan die anderkant is daar die jongmense wat opstaan teen die land se streng morele kultuur. Een van die gevolge is dat vroeg Februarie vanjaar het die ''Pink Chaddi Campaign'' tot stand gekom, met 2 weke later 'n lede tal van 32 000. Hulle het besluit om op 'n humoristiese manier te reageer op die dreigemente en almal aangemoedig om pienk chaddis (panties) aan die regse Shri Ram Sene te stuur. Shri Ram Sene het teruggekap en gese hulle gaan 'n pienk sari terugstuur vir elke pienk chaddi (ongelukkig het ek te laat daarvan gehoor.....) Op die end het die dag steeds gepaard gegaan met insidente van geweld teen paartjies, maar ek glo die meerderheid se simpatie le tog by die jongmense.

Friday, 13 February 2009

Sportdag

Inge het gister sportdag gehad by die skool. Haar klas was die Little Simbas en hulle het resies gehardloop, hindernis gedoen, sak resies gespring, tou getrek en nog baie ander lekker dinge. Alles het gegaan oor spanwerk en natuurlik was daar net wenners op die dag ! Dit was nogals 'n warm dag en half pad deur het almal gestop om aan waatlemoen te smul.












Wednesday, 11 February 2009

India week

Ons het almal die afgelope tyd op ons onderskeie maniere 'n "India week" gehad. Expats gebruik die term Indie week of dag om 'n slegte dag vol Indie frustrasies te beskryf. My week was vol sulke oomblikke, met die groot frustrasie - die internet. My vreugde Vrydagaand was van korte duur. Van Saterdag was die internet hoofsaaklik af, ek gereeld op die foon met Airtel en 'n Airtel 'beampte' 'n paar keer hier om dit te kom reg stel. Internet is my kontak met die wereld buite Chennai !! Ek is verlore daarsonder. Soos ek hier tik, is die groen internet liggie van die modem weer af..... soveel te se vir broadband 24/7. Die verskonings vir die probleem is enige iets van ons plek se ''wiring is faulty" tot die klomp wat besig is om 'n brug te bou hier anderkant het die kabels beskadig. Nog nooit is aan my gese - jammer, dis 'n Airtel probleem en ons werk daaraaan nie (die tipiese antwoord in Engeland). Reel no 1 in Indie - jy is nooit verkeerd nie, blameer altyd iemand anders. Die een ding wat 'n mens ten alle tye moet vermy is 'loosing face'.

My ander groot Indie frustrasie is dat Japie nou die eerste en laaste Saterdag van 'n maand moet werk - voldag. Net meer werk, niks ekstra verlof of geld nie. Ek is seker in enige ander land is daar arbeidswette teen so iets, maar blykbaar nie in Indie nie.

Ten minste was Inge se Indie week 'n heerlike ander storie. Verlede week het hulle Indie week by haar skool (net die laerskool deel) gehad. Hulle het hope pret gehad, Indiese klere gedra, kos geeet,liedjies en danse geleer, op 'n wa getrek deur bul gery, yoga gedoen, mehendi's op hulle hande geteken, rangoli's gemaak en baie van Indie geleer. Die week is afgesluit met 'n groot konsert vir die ouers. Die konsert was regtig pragtig. Die verskillende klasse het elk 'n beurt gekry en daar was bollywood danse, liedjies, gedigte en die graad 5 klas (10 jariges - oudste kinders) het Lagaan opgevoer. Lagaan is een van Bollywood se bekendste en beste flieks en die kinders het in 15 min die essensie van die storie uitgebeeld en selfs 'n dans of 2 gedoen. Pragtig. Inge se klas het liedjies gesing oor Indiese kos en sy was 'n idli...... opvreetbaar (my foto's het nie uitgekom nie en die video is vol lastige ma's wat rondhardloop met hulle kameras.....). Eintlik het Inge elke week 'n uur lank "Indian studies" wat sy baie geniet en baie leer. Ek raai sy weet tans meer van Indiese kultuur en geskiedenis as van Engeland of SA s'n.

Wel, Japie het sy gewone opwinding by die werk en Jean is weer siekerig.

Friday, 6 February 2009

Halleluja

Ons internet by die huis is weer aan. Dit was 10 lang, lang dae. Dit kom nou van trek in Indie. Niks gebeur hier vinnig nie, so ook nie die 'shift' van 'n landline en broadband nie. Tog met die dat ek sonder internet was vir so lank, was dit vanaand amper soos om 'n posbus van ouds oop te maak met al die emails en nuus wat vir my le en wag. Vier van die emails was met die mooiste sneeu foto's uit Engeland. My vriendin in Westcott se hulle was vir 3 dae vasgesneeu. Wat 'n belewenis - ons 4 is lekker suur oor die uitmis en homesick vir Engeland.

Ja, weer in 'n nuwe huis. Ek bly nou in my 5e plek in amper 9 getroude jare. Inge is nou 5 en in haar 4e huis, Jean 3 en in sy 3e. My een vriendin daar in die Kaap se sy dink dis tyd dat ons begin wortel skiet. My ander vriendin hier in Chennai, wat nou in haar 7e land bly, se na 3 jaar op 'n plek word sy kriewelrig en wil sy trek. Wel, al wat ek tans met sekerheid kan se is dat ons nie sal wortel skiet in Chennai nie.