Wednesday, 25 March 2009

Tollywood, Kollywood, Bollywood, wie kyk nog Hollywood?

Indie het my wereld oopgemaak vir baie dinge. Een van die wat ek baie geniet, is Indiese flieks, spesiefiek Bollywood/Hindi flieks. Alhoewel Chennai die stad van Kollywood/Tamil flieks is, het ek nog nooit 'n Kollywood fliek van begin tot einde gekyk nie. Dit is of te melodramaties of vol skop, skiet en donder en van die ouer flieks is meestal oor Hindu gode en legendes. Dan is daar ook 'n baie sterk verband tussen Kollywood en politiek wat my bietjie afsit. Meeste van die huidige Tamil politici was aanvanklik eers 'n akteur, regiseur of draaiboek skrywer en baie van die jong sterre het politieke verbintenisse of is parlimentslede. Oor Tollywood weet ek nie veel nie, net dat dit die Andra Pradesh film industrieis en 2e na Bollywood. Dan is daar nog baie ander kleiner film industrie oor Indie se state versprei.

Oor Bollywood kan ek al begin saampraat. Dis 'n kleurvolle eksotiese wereld, vol skitterblink weelde, mega-supersterre (waarvan 'n klomp - Shetty Shilpa, Shahrukh Kahn, Preity Zinta - oppad is na SA om hul IPL spanne te ondersteun), baie geld en miljoene aanhangers. As dit kom by aantal films en kaartjieverkope is Bollywood by verre die wereld se grootste film industrie.

Meeste gesprekke met Indiers gaan draai op 'n stadium by flieks (gewoonlik net voor of na krieket). Die eerste fliek wat almal my aanbeveel het om te kyk is - Lagaan. En ja, dis 'n great fliek. Dit gaan oor Indie, Engelse oorheersing, krieket, pragtige musiek, kleurvolle danse en 'n goeie storie. Ons al vier (!!) het die 3 ure fliek op een aand sit en deurkyk. Ja, vir 'n Indiese fliek het mens stamina nodig, selde korter as 3 ure.

Aanvanklik was ek nie baie opgewonde as die dans en singery in die flieks begin nie, nou kan ek my nie 'n Bollywood fliek daarsonder voorstel nie !! My Bollywood dansliedjie (ja, dit het 5 weke geneem om een dans te leer) kom uit Dostana - Desi Girl! Wel, eintlik is daar een fliek sonder danse- Chak de India. 'n Lekker fliek met gespottery oor die stereotipes van die verskillende Indiese state wat kom aanmeld om vroue hokkie te speel.

Een van die mooiste scenic flieks is Jodhaa-Akbar. Akbar is 'n groot Moghul heerser (oupa van Taj Mahal bouer). Groot dele van die fliek speel af in Rajasthan se pragtige forts en paleise. Die klere, danse en agtergrond is besonders.

Baie van die flieks het swaar ondertone van allerhande Indiese kwessies - vroueregte, Indie-Pakistan, Moslem-Hindu, ouer-kind verhoudings en die caste sisteem. Een fliek waar al die onderwerpe sommer saam gegooi word is die baie melodramatiese Veer-Zaara.

Ander goeie flieks is Taare Zameen Par en Ghajini - albei flieks van die Lagaan akteur, Aamir Kahn en siende dat ek 'n groot Jane Austen aanhanger is, het ek Bride and Prejudice ook baie geniet. Om Shanti Om en Devdas was nie vir my nie en Baghban, Namaste London en Life in a Metro was net so-so.

Dis my Bollywood in 'n neutedop..... en ja, ek is steeds suur dat ons die IPL gaan mis. Chennai Super Kings is natuurlik die span om te ondersteun, dit sal in elk geval moeilik wees om hulle te mis in hul kanarie geel pakkies.

Saturday, 21 March 2009

Nege jaar gelede

Saturday, 14 March 2009

Karate Kid

By die skool kan Inge kies uit 'n magdom "after school activities" - van sokker, arts and crafts, fuzzy french tot bharatnatyam, yoga en karate. Haar skool dag is tot 3.15pm so ons probeer dit beperk tot 2 middae 'n week. Die vorige semesters het sy arts and crafts en playground games gedoen. Die keer het sy karate gekies !? Uit haar klas alleen is daar 7 maatjies wat dit doen, so 'n baie gewilde aktiwiteit. Almal lyk te pragtig in hul karate klere en is baie gretig om al hul nuwe skoppe en arm swaaie te oefen. Mrs Dina het egter vinnig 'n stokkie gesteek voor die oefensessies in haar klas !

Vanoggend is Inge en Japie na haar eerste kompetisie (vir al Chennai se karateskole) en natuurlik het Japie 'n baie trotse en begeesterder karate pa teruggekom.















Vrydag by die skool was Inge en haar maatjie nog vol grappies (foto links), Saterdagoggend by die kompetisie was die glimlagte weg en net senuwees en determinasie het gebly (foto bo). Verskoon die skewe video, dis met komplimente van Japie.


Friday, 13 March 2009

Bharatanatyam





























Ek het gister een van my mees besonderse Indiese ervarings gehad. Ek het die voorreg gehad om saam met 'n groep expat vrouens die Kaladiksha Bharatanatyam dansskool in Chennai te besoek. Bharatanatyam is 'n baie ou klassieke dansvorm wat algemeen in Suid Indiƫ beoefen word. In SA en Engeland doen klein dogtertjies ballet, in Chennai doen hulle Bharatanatyam. Ritme, musiek, emosies, drama en ingewikkelde oog, kop, arm, lyf en voet bewegings word saamgevoeg om of stories uit te beeld of om net 'n pragtige dans vir die toeskouer aan te bied.

Verlede jaar November het ek my eerste Bharatanatyam vertoning gaan bywoon. Vir 'n uur het ek my verkyk aan die pragtige kostuum, grimering, juwele en blomme in die hare van die danseres. Daarna het ek toevallig 'n kort lesing bygewoon wat die eenvoudiger bewegings verduidelik het. Met bewegings van haar hande kan die danseres verander van 'n lotus blom tot 'n tier. Desember en Januarie is die tyd vir baie musiek en dansvertonings in Chennai en ek het saam met my pa en ma 'n vertoning met Mamallapuram se relief as agtergrond bygewoon. Dit was 'n belewenis.














Gister was dit vir my heerlik om te sien hoe die studente in 'n pragtige outentieke danssaal oefen en dans. Die eienares is 'n besonderse vrou, sy is passievol, elegant en doen self nog gereeld vertonings. Hopelik kan ek een daarvan bywoon voor ons Chennai groet. Die fotos is wat ek geneem het gister en in Mamallapuram, maar gaan kyk gerus na die video op youtube vir 'n beter idee. (Dis video is nie van die spesifieke skool wat ek besoek het nie en ook 'n ander styl. Mens kry verskillende Bharatanatyam style, maar vir leke soos ek en jy, is die een soos die ander.)

Middagete of nie ?

Nee, die muskiete het ons nog nie opgeeet of weggedra nie, ons was nie op vakansie nie en die internet werk nog. Ek was net die laaste ruk lui vir blog, die tyd het ongemerk verbygegaan, nou is dit al weer 2 weke later en ek 2 weke ouer. Ja, ek begin die ouderdom voel. Ek sukkel om gesond te word na 'n ligte verkoue, kan nie byhou in die bollywood dans klas nie en vandag is Japie se grootste vrees bevestig, my breinselle word vinnig minder.

Net voor ons Indie toe gekom het, het Japie vir my 'n Nintendo met Dr Kawashima's Brain Training gekoop. Hy was bekommerd dat siende dat ek in Chennai is, hoofsaaklik om ''lady of leisure'' te wees, my brein gaan afskakel en op verfrummel. Die eerste keer wat ek gespeel het, is my brein ouderdom gemeet as 60 - ek het nog nie die speletjie lekker verstaan nie. Vinnig het ek egter my brein ouderkom afgebring tot 33 en siende dat dit jonger is as my werklike een, was die uitdaging verby, ek het belangstelling verloor en die Nintendo weggebere. Tot vanmiddag.

By Inge se skool kan ons vir haar middagete by die skool bestel of ek kan vir haar kos inpak. Nadat sy van die verskillende opsies uitprobeer het (elke dag kan sy kies tussen 4 etes - Koreaans, Indies, gemorskos of iets meer gewoon soos pasta en groente), het ons besluit dat sy Maandae en Dinsdae by die skool sal eet en die res van die week pak ek kos in. Vandag het ek vir haar 'n appel ingesit vir oggend snack en 'n muffin vir middag snack. Vir middagete het ek blykbaar net kos in my gedagtes ingepak. Na skool is ek voorgekeer deur Ms Hema van die kafeteria wat se ek skuld haar RS25 vir 'n broodjie en by die klas het 'n groep ma's my ingewag om te se Mrs Dina wil my dringend sien, almal natuurlik baie nuuskierig oor wat gaan aan. Inge se dat toe sy haar pienk lunchbag met die prinses katjie op, in die kafeteria oopgemaak het, was daar niks in nie ! Sy het darem 'n kaas broodjie van die coffee shop gekry. Steeds kan ek glad nie onthou dat ek nie die kos ingepak het nie. Aan die anderkant, as ek nie kos ingepak het nie, is ek mos nie veronderstel om dit te onthou nie. In elk geval, die Nintendo se batterye is besig om te laai.