Friday, 29 May 2009

Afskeid

Nog net 'n week dan begin die 2 maande lange somer vakansie ! Dit is die lekker deel, maar eers moet ons afskeid neem van baie vriende. Ek het laas op universiteit so baie mense in so 'n kort tydjie ontmoet en omdat ons almal in dieselfde bootjie is, vorm vriendskappe vinnig. Vir 'n expat is alles egter net tydelik. Baie expats se kontrakte loop saam met die skooljaar, so aan die einde van 'n skooljaar is daar altyd 'n groot klomp wat Chennai verlaat. Vanjaar, as gevolg van die resessie, is daar egter soveel meer wat gaan. Die afgelope 2 weke was ek by 'n hele paar afskeidspartytjies. Natuurlik is dit heerlike sosiale geleenthede, party is uiteet, ander 'n potluck (die Amerikaanse naam vir bring iets en eet saam) of sommer net 'n koffie. Gister het die Elementary School hulle laaste Assembly gehad en vandag het Inge se klas vir die ouers konsert gehou en elkeen het 'n pragtige sertifikaat gekry. Tog, al die afskeide gaan gepaard met hartseer trane en dit raak emosioneel uitputtend !! Drie van die ma's in Inge se klas met wie ek goed bevriend geraak het, is reeds opgepak en reg om te vlieg - California, Michigan en Duitsland. Die lewe gaan egter aan en ons sien uit na die skool se 'Welcome back Picnic' saam met al die ou en nuwe vriende in Augustus.

Onder 'n video van 'n stukkie van 'n liedjie wat die kinders gesing het - 5 van Inge se klas van 16 gaan weg.


video

Tuesday, 26 May 2009

Jean se Indie

Baie keer wonder ek wat Jean van Indie gaan onthou. Met ons trek na Chennai was hy 'n 2 jarige, dummy in die mond, baked bean etertjie (foto regs) wat soos ek die tasse ingepak het in Westcott, sy klere weer mooitjies uitgehaal en teruggepak het in die kaste. Een ietsie in elke kas van die huis !! Die eerste paar weke in Chennai het hy gesukkel met koors en hitte uitslag, maar dis alles lank reeds vergete. Inge noem haarself 'n dogtertjie van Engeland, Japie verlang na SA, ek weet nie waar ek wil wees nie, maar Jean, hy geniet sy Indie voluit. Dis sy plek, dis wat hy ken, hier gaan hy 4 word en ek hoop 'n bietjie onthou en vir die res is daar ons foto's. Wel, Jean se Indie is 'n heel ander plek as waarvan ek skryf hier op die blog - so hier is 'n paar foto's van wat hom laat glimlag.


Jean se oggende begin met pappietee. Pap en rooibos tee, maar vir hom is dit een ding, tee sonder pap en pap sonder tee werk nie, in elk geval nie vroeg in die oggend nie.

Op pad skool toe is daar baie dinge wat hom opgewonde maak. Koeie, straat honde, karre, treine, trosse piesangs, maar die baie busse bly sy gunsteling. Heelpad gesels ons oor busse, "Mamma, kyk 'n bus, look yellow bus, blue bus, green, nog 'n green" en as ons verby die blou bus met die tier ry, is hy uit sy vel. Jean se grootste wens is om in 'n bus te ry (die laaste ding waarvoor ek lus is in Chennai, so dit is op Japie se lysie!).






Jean is baie gelukkig in sy skooltjie en bring trots elke Vrydag, 'n leer met al sy kunswerke van die week, huistoe. Oppad terug van die skool ry ons altyd oor die Adyar brug met die twee leeu standbeelde. Jean kyk en lewer kommentaar daaroor elke keer as ons daar verby ry, so asof ons dit dan vir die eerste keer sien.



As dit kom by etenstyd is Jean goed vol fimies en vir meeste Indiese kos trek hy sy neus op. Vir 'n bord wit rys en chappati sal hy egter nooit nee se nie. Die rys word binne in die chappati gesit en opgerol soos 'n pannekoek. Gedoop in ketchup is dit blykbaar koningskos. Tot sy pa se frustrasie verkies hy om soos almal hier in Indie te eet - met sy hande !

Ons Jean is 'n bouer van formaat. Met megabloks bou hy bote, torings, kare en voels. Lego is vir patrone bou en dan is daar sy treinstel en karre wat hy vinnig-vinnig aanmekaar sit. Die beste is natuurlik as hier maatjies kom kuier en saam bou - veral as hulle inval by hoe hy voorskryf dinge gedoen moet word !

Middae, wanneer ons vir Inge by haar skool gaan haal, is die speel in die parkie saam met die groot kinders (Inge se maats) 'n groot lekkerte. En net soms, se die ma ''ja'' vir 'n roomys of Appy sappie by die PTA winkel, 'n hoogtepunt. Jean is ook altyd reg vir gaan swem. Hy vertel hy is 'n vis in die water (die vis kan egter nog nie swem nie, hy het wel die afgelope week of wat begin om sy kop onder die water te sit).




















Op vakansies of uitstappies het hy nie veel erg aan forts, tempels en paleise nie. Nee, sy tipe plek is Chennai se krokodil plaas en dieretuin, met tiere (sover die enigste tier wat ons in Indie gesien het.....) en olifante of sommer net Vanilla se soft play speelplek. 'n Verjaarsdag partytjie in Chennai is ook altyd spesiaal. Dit gaan gewoonlik gepaard met bouncy castles, gesig/arm/hand verf, spookasem, toorkunsies en goody bags.















Van al die dinge, is die baie aandag miskien wat Jean die meeste geniet. Oral is daar iemand wat reg is om hom op die hande te dra. By die huis is dit Amudha (of Jean se Asa), in die kar Kotti, by die skool Deepti, Pam en Uncle, by restaurante, Vanilla, oral, altyd iemand gretig om hom te vermaak! Ja, hy (en ek) sal dit baie mis as ons die dag Chennai groet.

Die manier om sy dag perfek af te sluit is om saam met sy sussie in haar bed aan die slaap te raak.









Natuurlik is daar ook 'n paar dinge in Chennai waarvan hy niks hou nie. Dis nou soos middagslapies, bedelaars wat aan sy kar venster klop, miere en sy ma wat alewig 'n foto wil neem, maar dis nie nou belangrik nie.

Sunday, 24 May 2009

Chennai Super Kings

Ai tog, ons was veronderstel om vanaand fees te vier, maar nee die Chennai Kings gaan verloor toe mos in die semi's gisteraand. Wel, ten minste het ons die verloor, met 'n bier in die hand, aanskou op die grootskerm langs die Madras Club se swembad, so dit was darem nie te traumaties nie. Ons het egter ons lus vir vanaand se krieket verloor.

Miskien sal ek nou 'n goedkoop geel T-shirt vir Jean te koop kry en hy hou tog so baie van die leeu daarop.

Thursday, 14 May 2009

Moedersdag

Ek was reg, dinge gebeur maar net bietjie stadig. Maandag het Inge vir my in die skool 'n Moedersdagkaartjie gemaak en 'n bossie papier handjie blomme. Vanoggend het ek sjokolade by Japie gekry wat hy in Delhi gekoop het, so nou nog net die koffie in die bed.......

Die groot rede van Japie se besoek aan Delhi gister was om Inge se tydelike SA paspoort te gaan afhaal. Uiteindelik is alles reg vir ons SA vakansie - vliegtuigkaarjties is gekoop, paspoorte om in SA te gaan en visas om terug te kom na Indie! 10 Junie vlieg ek en die kinders en so 2.5 weke later kom Japie.

Monday, 11 May 2009

Groot naweek















Ons het 'n groot naweek agter die rug. Japie het Saterdag verjaar, maar ek het al Donderdag begin met die voorbereidings. Deesdae droom hy oor SA kos - beskuit en vleis. So Donderdag het ek beskuit gebak en Vrydag melktert. Geen maklike oefening nie, bloot om die bestandele bymekaar te kry is 'n onmoontlikheid. Die moeilikste deel was egter in die kombuis met geen lugverkoeling nie - nie eens in die gym sweet ek so nie.... Vrydagaand was alles reg en die feestelikhede het afgeskop met uiteet. Japie kon onder andere kies tussen steak of lam skenkels (hy het eers doodseker gemaak dat die lam nie eintlik mutton/bok is nie en die steak nie waterbuffel nie....... ) en om alles af te sluit het die restaurant vir hom 'n sjokolade koek gebring waaroor brandewyn gegooi en aan die brand gesteek is. Wel, die aand was nie net vol verassings vir Japie nie, op my het daar 'n groter verassing gewag. Vrydagmiddag het Japie gehoor dat die Britse Home Office hul aanvanklike 3 nee's oor ons burgerskap verander het na 'n ja! Wat kan ek se - ons het baie gehad om te vier. Nou wag ons net vir die papiere.

Saterdagoggend het ons baie vroeg vir Japie met die beskuit en tee in die bed wakker gemaak. Jean kon nie wag om vir Japie sy spesiale geskenk te gee wat hy self uitgesoek het nie - 'n hot wheels racing track- enige pa se droomgeskenk ! Saterdagmiddag was ek terug in die kombuis om reg te maak vir vriende wat kom eet het die aand (het ek al gese hoe bitter warm dit in die kombuis is ?).

Sondag het Moedersdag gekom en gegaan...... geen koffie in die bed nie, maar miskien is dit maar soos die res van Indie waar alles laat gebeur, so ek het nog nie hoop verloor vir daai koffie in die bed nie. Ons het darem die middag gaan brunch eet saam met 6 ander families wat heerlik was. Die pa's en die kinders om een tafel en die ma's om 'n ander.

Friday, 8 May 2009

Mango tyd


Ons hier in Chennai het baie goed gedoen. 'n Maand gelede was die strate vol waatlemoene - letterlike hope daarvan. Ons het gekoop en geeet en geeet en geeet, alles op ! Nog net hier en daar is 'n waatlemoen te sien. Die waatlemoen hope het egter nou plek gemaak vir mango's. Geles vir eet, groenes vir chutney en oranjes vir seker maar ook eet. Wel, mango's beteken die somer is hier...... en ja, dis goed warm.

Tuesday, 5 May 2009

Mysore

Verlede Vrydag was vakansie, Japie sou sommer die Maandag ook verlof vat en ons het groot planne gehad vir die naweek. Japie wou na die Himalajas vanaf Darjeeling gaan kyk en ek land uit na Singapore. Voor ons egter nog begin onderhandel het, het Japie se plan om Maandag verlof te vat gesneuwel en so ook ons naweekplanne, want vir beide het ons meer as 2 nagte weg nodig. Ek het weer Lonely Planet en Rough Guide se South India Highlights deurgeblaai. Mysore (in ons buurstaat Karnataka) se foto's het my opgeval - een van my vereistes vir 'n goeie vakansie is, dat die plek potensiaal vir goeie foto's moet he. Mysore het nie teleurgestel nie, ek het my foto's gekry en ons almal het 'n wonderlike naweek gehad.















In vergelyking met Chennai was dit heerlik koel en skoon in Mysore. Daar is baie om te sien en doen, die April bome het geblom, die kos is nie te sterk nie en mens kan wyn en bier koop teen billike pryse.



Vrydagaand het ons gaan kyk na Mysore se groot attraksie - die verligte Maharaja Palace. Op publieke vakansie dae en Sondagaande word die paleis met 96 000 liggies verlig (of so vertel elke boek, gids, pamflet en boorling van Mysore). Wel, kersliggies, paleisliggies, stadsliggies, maak nie saak nie, liggies bly vir my altyd mooi. Ons het die aand afgesluit met tandoori hoender (ons braaivleis in Indie), bier, kulfi en IPL in ons hotel se courtyard. Wat meer kan mens vra ?











Saterdag is ons vroegoggend na die Sri Chamundeswari Temple op 'n heuwel net buite die stad. Die tempel self is niks besonders nie, maar dit was tog interessant om die tempel rituele te sien. Die foto links is van 'n man wat leerbandjies verkoop en in die middel van die blomme en coconut offers. Elke tempel se bandjie lyk effens anders, so mense koop en bind dit om hul arm om te wys hul het die tempel besoek. Die spesifieke tempel is baie gewild onder pelgrims en die is veronderstel om die 1001 trappe na die tempel uit te stap. Soos oral in Indie, is daar altyd 'n manier om verby 'n reel te kom, so hier kan die pelgrims iemand betaal om die trappe namens hulle te klim.

Die oggend se hoogtepunt was Deveraj mark - die plek van die foto's ! Dis 'n pragtige, kleurvolle en vriendelike mark waar groente, vrugte, verf (word gebruik vir holi - die fees in noord indie wanneer mense mekaar met verf gooi), blomme, jaggery (0nverwerkte bruinsuiker) en parfuum verkoop word. Terwyl ons daardeur gestap het, het ons glimlagte net grootter geword. Soveel eenvoudige, mooiste mooi dinge.





























Die aand het ons weer 'n besonderse ervaring gehad - Brindavan Gardens. Die tuine is so 19km buite Mysore, letterlik reg onder die River Cauvery dam se wal en baie bekend omdat dit in so baie Bollywood flieks gebruik word. Ons en bitter, bitter baie ander mense is die aand na die tuin om na die verligte fonteine te gaan kyk. Nog liggies. Die tuin en die fonteine is mooi, maar wat dit besonders gemaak het, was die mense. Die vrouens was uitgevat in hul kleurvolste en blinkste sari's, selfs die blomme was vaal teen hulle. Ons het vir 'n ruk saam met almal in die tuin rondgeloop en toe die liggies gaan bewonder van die hotel aan die bo punt van die tuin se stoep.
















Sondag oppad terug het ons gestop by Keshava Tempel in Somnathpur, gebou in die 12e eeu.















Ja, dit was 'n naweek met baie sightseeing, maar tog sal ek dit onthou as 'n heerlike rustige naweek en as ek my oe toe maak sien ek steeds, geel, oranje, rooi, groen, pienk, blou en pers. Mens kry nie kleurvoller as Indie nie.