Friday, 5 June 2009

Vakansie

11.15 vanoggend en die somervakansie het aangebreek en daarmee saam die einde van Inge se laaste dag in Kindergarten! Die Spaanse ma's het almal 2 soene in die lug gegee, die Belgiers 3 soene, die Koreaanse en Japenese ma's het die hande saamgevat en 'n hele paar keer geknik, die Indiese ma's het genamaste, die Amerikaners het gedruk, die Franse het saam gesoen, die Britte, Duitsers en Australiers het ingeval met wat ook al en almal saam het trane afgevee. Terwyl die ma's gegroet het, het die kinders vir oulaas heerlik saam gespeel. Hulle groet was 'n eenvoudige - bye! Met die vraag of Inge dan nie hartseer is dat dit haar laaste dag saam met Shyna, Johann, Ashna, Ben, Janine is nie, was die antwoord - hulle gaan vir haar kom kuier in Engeland, sy by hulle in Amerika, Duitsland en Australie en sy gaan vir hulle email !!

Wel, na skool het ek en 'n paar ma's, maatjies en 'n koei, almal wat nie nou uit Chennai trek nie, by Ideal Beach die begin van die vakansie gaan vier. Na al die afskeide was dit 'n lekker verfrissende middag by die see.