Monday, 31 August 2009

Party by Mr JP Blignaut & Elmarie


Gistermiddag was dit partytjie tyd ! Inge wou baie graag al die maatjies in die klas nooi, ons het nog 'n paar vriende met klein kindertjies genooi en die uiteinde was 'n heerlik Sondagmiddag saam met ou en nuwe vriende. Natuurlik het ons nie so baie plek by die huis nie en het ons 'n plek gehuur met kos, bouncy castle en baie plek vir rondhardloop. Die kinders het gespring, hulle gesigte is geverf, gesigmaskers gemaak, skoenlappers versier, musical flowers/chairs gespeel en lekker koek geeet. Ja, sommer baie aktiwiteite, maar ek was bekommerd dat dit gaan reen en siende dat dit hoofsaaklik 'n buitelug venue is, was ek gereed om 18 kinders selfs in 'n klein vertrekkie besig te hou ! Kotti was verantwoordelik om vir die ander bestuurders aanwysings te gee om by die plek te kom as hulle bel. Sy oplossing was om die plakkaat oor die straatnaambordjie te plak !


































Thursday, 27 August 2009

6 jaar oud !

Dit het soos 'n ewigheid gevoel vir Inge, maar vandag is sy 6 !! Al verjaar sy eerste in die skooljaar, is Inge die jongste in haar klas (het my 'n lang ruk gevat om te verstaan van skooljare en afsnydatums), so deur die hele Kindergarten jaar het die een maatjie na die ander 6 geword. Vandag was die Inge se beurt. Hier is 'n paar foto's van die dag. Sy was baie beindruk met haar kamera (dink nie die ''weggooi'' deel het al ingesink nie) en Ant World geskenke. Sy was vroeg oggend reeds aangetrek, met haar 'birthday girl' badge - reg vir skool. Inge het 'n skoenlapper koek bestel om vir haar maatjies te vat. Siende dat dit vanjaar net vir haar klas was en nie vir die hele jaargroep soos verlede jaar nie, het ek self gebak. Die hele klas was in verwondering oor die pragtige skoenlapper! Wat 'n treat om vir sulke waarderende kindertjies te bak.

Monday, 24 August 2009

Pondicherry

Dit is naweke soos die wat ons tyd in Indie ekstra kleurvol maak. Ons is weer Pondicherry toe. Soos die vorige keer het ek en Japie meermale gese, wat 'n great plek die Pondicherry, ons moet meer kom....... dis net, om daar te kom is 'n storie !!

Die rit na Pondy
Daar word baie gese oor die verkeer in Indie. Alles is waar. Dis hoekom ons 'n bestuurder het en nog nie die langpad per kar deur Indie aangedurf het nie. In die stad vloei die verkeer gewoonlik stadig, so die ergste wat met 'n kar kan gebeur is 'n ligte stampie of ons wat 'n motorfietsryer stamp met die karspieeltjie. As dit gebeur gooi beide bestuurders een hand in die lug, wobble hul koppe, maak tsk geluide en ry dan weer verder. Buite die stad verander dinge drasties. Ons jaag. Wel selde vinniger as 80 km/h, maar gewoonlik aan die verkeerde kant van die pad. As ons die slag wel aan ons kant van die pad ry, is dit omdat daar 'n bus van vooraf aan ons kant van die pad aankom besig om 'n ander verby te steek. Almal druk dan natuurlik toeter, flits ligte en swenk weg op die laaste oomblik. In daglig is dit erg genoeg, maar ons het besluit om ons naweek maksimaal te gebruik en Vrydag 6pm uit Chennai vertrek. Die grootste deel van ons rit was dus in die donker en ja, al die voertuie het ligte, dis die mense, koeie en honde langs die pad wat die ekstra pret verskaf. Op een stadium terwyl ons en 'n bus opmekaar afgejaag het, het 'n koei doodrustig tussen ons ingestap. Beide voertuie het vinnig rem getrap ! Wat Vrydagaand se rit verder bemoeilik het, is dat daar 'n pelgrimstog op dieselfde pad onderweg was. Ons is steeds nie seker wie die pelgrims was nie, maar volgens Kotti is hulle Christene. Wel, almal het oranje aangehad en van Chennai na Pondy gestap (144km) ! Die stappery word hoofsaaklik in die nag gedoen, meestal met die rug na die verkeer (dis nie 'n voorvereiste nie, bloot soos meeste mense in Indie langs die pad stap) en deur die dag rus en slaap hulle dan op enige plek langs die pad. Sondag oppad terug het ons steeds aankomende pelgrims gekry. Gelukkig het ons baie voorspoedig gery en was Vrydag aand 8.30pm by ons bestemming - Dune Eco Beach Village !





























The Dune

Die plek is 'n regte kinderparadys. 'n Dorpie in die kleine oor 38ha, waar mens moet fiets ry waar jy wil wees. Van ons Kerala huis, met sy pragtige privaat tuintjie, na die swembad, na die restaurant, na die kameel en koeie, na die speel area en as ons Pondy toe wil gaan, tot by die kar. Saam met die verblyf het ek en Japie albei fietse gekry, ons het die kinders s'n saamgeneem en vir die eerste keer het ons 4 saam fietsgery ! Op die laaste rit het Jean sy kniee nerf af geval, maar vandag is hy baie trots op sy wonde. Inge het wel groot geskrik toe ek se die val is nie so erg nie, hulle twee gaan nog baie stukkende kniee he ! Al die huise by The Dune is gebou in verskillende style en hier en daar lyk dit of die argitiek absoluut vrye teuels gehad het. Die Lost styl 'deur na die see' het die koek gevat !





























Pondicherry

Laat oggend, terwyl dit te warm geraak het vir fietsry en swem, het ons in meubelwinkels gaan rondloop, die tempel olifant gaan groet en weer by ons gunsteling restaurant gaan eet - middag en aandete ! Behalwe vir Franse kos, bree strate en Ashrams is Pondy baie bekend vir meubelwinkels wat spesialiseer in ou meubels restoureer. Japie is nou al vir 'n rukkie op soek na 'n roll top lessenaar en ek sommer vir iets mooi. Ons het 'n pragtige tafeltjie, marriage box en koper pot gekoop, maar die lessenaars wat ons gesien het was ongelukkig of te breed, te laag of te kort. Japie het wel 'n Duitser in Auroville gekry wat heel waarskynlik sy lessenaar gaan maak.















Links - 'n groter en nog gehawende weergawe van ons tafel. As ek plek gehad het vir 'n deur, sou dit dalk die een gewees het !



Die rit terug het al ons verwagtinge oortref - in minder as 2 ure was ons terug in Chennai. Wie weet, dalk het ons oor 'n paar maande weer die moed om die pad Pondy toe aan te durf !

Thursday, 20 August 2009

Fietsie ry















Met ons vakansie in SA het Inge vir die eerste keer op 'n fietsie sonder kantwieletjies gery, met die komplimente aan haar oupa en ouma in Worcester. 'n Groot oomblik. Die eerste Saterdag terug by die huis, het sy gevra Japie moet haar eie fiets se wieletjies afhaal en met die nuwe selfvertroue het sy dadelik lekker gery.

'n Tyd terug het Japie gese, sodra Inge kan ry sonder die wieletjies, kan sy 'n nuwe fiets kry en Jean haar oue. Eintlik is die oue al lank gelede gekoop met Jean in gedagte - 'n blou en rooie. Japie het, soos hy alle aankope doen, deeglik navorsing gedoen op die internet en besluit dat dit 'n Hero fiets sal wees. Indie se beste en sowaar die begin van een van ons aangenaamste Indie aankope ervarings. Japie het Inge saamgevat na die winkel, hulle het besluit op die grootte en Inge het vir haar 'n pragtige pienke uitgekies ! Hulle het op die sypaadjie gaan sit, tussen die koeie, mense en tempelgeluide en gekyk hoe haar nuwe fiets aanmekaar gesit word. Klokkie, mandjie, spesiale saal, alles vir 'n dogtertjie hart. Terwyl die fietsie aanmekaar gesit is, is Jean s'n gediens by dieselfde winkel. Wiele is afgehaal en bekyk vir gaatjies, olie gegee, blinkgevryf en die fietsie het 'n nuwe toeter gekry, kompleet soos die auto's se toeter. Twee baie gelukkige kinders ! Deesdae is daar geen keer nie, elke ledige oomblik beveel superblits Jean - fietsie ry !

Monday, 17 August 2009

Varkgriep paniek

So 2 weke terug is Indie se eerste varkgriep sterfte bevestig. Van die dag hou die nuus en koerante ons elke dag op hoogte van nuwe siekte gevalle, watter staat die meeste gevalle het en wat om te doen as jy dit dalk het. Groot paniek. Skole is gesluit, party mense dra gesigmaskers en ander met net 'n ligte hoesie staan in lang toue om getoets te word by staatshospitale (aanvanklik die enigste plek waar mens kon gaan vir 'n toets). Binne 'n week het Tamil Nadu geen toetsstelle oorgehad nie. Tans staan die sterftesyfer op 27. Ek het self deesdae 'n hoes, so voel nie heeltemal ongeerg nie. My grootste vrees is dalk nie varkgriep nie, maar die voorgeskrewe kwarentyn in 'n Indiese staatshospitaal vir almal wat varkgriep het.

Vandag was daar egter 'n nuwe voorblad berig, miskien om dinge bietjie in perspektief te stel. Volgens statistieke wat die WHO bekend gemaak het, is Indie die land met die hoogste pad stertesyfer - 13 mense per uur. Die grootste oorsake is spoed, drink en bestuur en lae gebruik van motorfietshelmets. Met die statistiek in my agterkop is dit dus vir my tog opvallend ironies om motorfietsryers, kinders ingesluit, met maskers te sien ry, maar sonder 'n helmet. Dalk 'n geval van die nuwe, onbekende gevaar hou meer vrees in as die ou, bekende gevaar. Better the devil you know......

Saturday, 15 August 2009

Back to school


On Monday it was back to school for Inge. Two months holiday is a very long time, so she was a little bit anxious about returning, but once there, meeting her teacher and old and new friends she was very happy to be back. With the building work completed, the elementary school has a very nice feel - separate from the "big kids'', with its own drop off, reception, cafeteria and a wonderful new climbing frame on the playground. I missed out on the first day of the new school year photo, so this one is the end of the week - still looking happy !

Friday, 14 August 2009

Weer begin

Waar om te begin ? Meer as 'n maand het ek nie geblog nie, baie stories en foto's het agterwee gebly, so waar om weer te begin ? My plan met die blog is, om dit aan die einde van Indie uit te print en oor 10 jaar, wanneer ons terugkom vir vakansie na Indie, vir die kinders te gee om te lees, sodat hulle ook hierdie avontuur kan onthou. Vir volledigheidshalwe, sal ek dus bietjie moet terug gaan in die maand.

Aanvanklik was die rede vir nie blog nie, 'n lekker 2 weke van vakansie vir my en die kinders in Engeland. Vir Inge en Jean is elke kuier saam met Anja en Antony 'n absolute hoogtepunt. Hulle het die huis binne omgekeer, 'n teepartytjie gehou, buite gespeel (helfte van die tyd by die bure) en gekamp in die tuin. Ons het vir ou vriende gaan kuier, SA gemeente toe gegaan, 'n 'hop on hop off' toer in London gedoen, piekniek langs Guildford se ''lock'' gehou en baie aarbeie geeet. Ons almal is ge-mii op die wii en ek het selfs die boxing pro Antony twee keer plat geslaan!! Dan was dit ook sommer 'n goeie tyd om almal se inentings op datum te kry. Twee weke sonder 'n pa is lank (veral vir my!), so dit was ook lekker om weer op die vliegtuig te klim terug na Japie.





























Terug in Chennai was vir my egter 'n besonderse laagte punt. Eers het ek erge jetlag gehad. In die aande twaalfuur, was ek op my wakkerste ('n totaal vreemde ervaring vir my) en oggende kon ek nie opkom nie. Chennai was van vooraf vir my 'n kultuurskok en boonop is daar die wete dat oor 5 maande pak ons weer op. Die 2 maande se kuier by vriende wat ''gevestigde'' lewens het, het my laat verlang na 'n plek waar ons ook kan wortelskiet. Ons toekoms is nog onseker, maar tans lyk dit egter of ons vir die volgende paar jare steeds goeie vriende met Pickfords en co gaan wees.

Die lekker van terugwees in Chennai is om weer ons vriende hier te sien en te hoor van al hulle vakansie ervaringe. Verlede Donderdag het ek en Japie ook amptelik Britse burgers geword tydens 'n eed aflegging seremonie by die Britse konsulaat. Die Queen self kon nie daar wees nie, maar haar foto was groot uitgestal tussen die Union Jack en 'n bos rooi en wit blomme. Die seremonie is afgesluit met 'n soet, wit tee. Ongelukkig is my kamera beskou as 'n veiligheids risiko, so ek het geen foto van die groot oomblik nie. Die volgende stap was om aansoek te doen vir die Britse paspoorte. Die was 'n gewone vorm invul proses, met een besonderse versoek. Familie foto's van oor die jare ! Nou kyk, ek is steeds nie seker wat presies die rede daarvoor was nie, maar ek was in my element. Foto's is my passie, ek het duisende daarvan en ek het vir hulle 'n pak gestuur ! Foto's van ons saam met die Britse familie, foto's saam met die familie in SA, foto's van ons troue, die kinders se doop, ons voor al wat Britse landmerk is oor die jare, ons hier in Indie en sommer net ons. Nou moet ek se, ek het net foto's van die afgelope 10 jaar gestuur, so ek sal maar moet wag en hoor of ek ons baba foto's ook sal moet gaan uitkrap. In elk geval, dit was 'n heerlike oefening en ek het opnuut besef (gestaaf met al my duisende foto bewyse) dat ons het 'n goeie, baie geseende lewe het. Rondswerf vir nog 'n paar jaar is dus nie te slegte vooruitsig nie, ten minste sorg dit vir goeie foto's, baie stories en mooi inkopies.