Friday, 30 October 2009

Halloween


Verlede jaar het ons 'n oordosis Halloween gehad, vanjaar het ek laag gele en Inge het net by haar skool getrick en treat. Dalk sal ek maar verlief moet neem met Halloween, maar eintlik hou ek nie baie van die idee nie. Dinsdagaand voor bed tyd het Inge baie bekommerd vertel van die 'wicked demon' wat Halloween gaan kom om haar te 'trick'.......

Thursday, 29 October 2009

UN Dag - Proudly South African


In Inge se eie woorde was dit vandag haar belangrikste dag nog by die skool. Die skool het vandag UN Dag gevier en Inge is gekies om in die vlag parade te help om die SA vlag in te dra (ja, vanoggend het ek ontdek daar is vanjaar nog 'n SA kind in die skool - wel met 'n Deense pa) en om in die skoolkoor te sing. Vir 2 weke het hulle baie hard geoefen aan "We are the World" en by die huis het sy kliphard saam met Michael Jackson op youtube geoefen, sodat selfs Jean later begin saam sing het (die video hier onder is van hul laaste oefening). Vanoggend was sy so gefokus op wat voorle, dat daar nie baie glimlaggies was vir die kamera nie.




Die vlag seremonie was van Olimpiese formaat en selfs ek, wat nog nooit 'n baie patriotiese mens was nie, het gesukkel om die trane te keer - 35 lande in totaal is verteenwoordig. Die hele skool se kinders was almal aangetrek in hulle nasionale klere of kleure. Inge se rokkie was my poging tot Afrika klere !!






























Na die vlag seremonie, toesprake en liedjies het die ma's begin om die middagete tafels te dek vir die hele skool met kos van oor die wereld. Daar was kimbop en japche van Korea, pannekoeke van Frankryk, Sweedse frikkadelle, Duitse brood en pasta van Italie. Die Australiers het rolly pollys gemaak die Amerikaners koekies en brownies, phad thai noedels van Thailand, sushi van Japan, natuurlik rys geregte van Indie en nog hope ander kos. Ek het geskrik met die hoor dat elke land happies moes maak vir 1000 mense (kinders en onderwysers) en besluit om maar vir die Britte te help shortbread bak.

Monday, 26 October 2009

Thailand

Thailand - wat 'n great plek ! Dis skoon, die mense is vriendelik, die kos is heerlik en die beste van alles, selfs op die klein eiland Samui is daar 'n Boots en 'n Tesco !!! Meermale het ek by myself gewonder, hoekom is die land so skoon en selfs luuks in vergelyking met Chennai en waarom het Japie se maatskappy nie 'n kantoor in Bangkok nie ? Chennai, met sy 7 miljoen mense en nie een groot supermark nie..... ek verstaan nie.

Wel, ons het lekker vakansie gehou, eers 2 nagte in Bangkok en daarna 6 dae op Koh Samui. In Bangkok het ons in die pragtige Shanghai Mansion in China Town gebly, ons het die stad verken van die rivierbote af, inkopies gedoen, 'n Budhiste tempel besoek en in die markte rondgeloop. Bangkok was egter nie vir die kinders nie, Koh Samui was wel. Koh Samui is 'n pragtige eiland en omdat ons daar aan die begin van die monsoon tyd was, het die eiland ook redelik min toeriste gehad. Op die eiland het ons hoofsaaklik geswem, geeet en geslaap. Ons het wel een dag 'n Jeep gehuur en om die eiland gery, omtrent 100km. Natuurlik was dit die eerste keer in 'n lang tyd dat Japie bestuur het en hy het so begeesterd geraak dat hy selfs off road gegaan het op soek na 'n waterval..... totdat sy mede passesiers te veel begin kla het. Laatmiddag en die aande was my gunsteling tye. Sommer lekker om langs die see te stap terwyl al die restaurante hul tafelstjies uitdra op die strand sodat ons met voete in die sand kon sit en eet, terwyl daar nou en dan 'n papier lamp in die lug opgaan.






























Tog was daar die vakansie nie net vrede in die paradys nie. Ek kan nie my vinger heeltemal daarop sit nie, miskien is dit die trek wat voorle, miskien is dit omdat Japie vir die hele November weg gaan wees of miskien begin die kinders se wille net sterker word, maar in die paar dae was daar ook heelwat onmin in ons gesin. As ek en Japie wil see toe gaan, wil die kinders swembad toe, as een wil slaap, wil die ander TV kyk, as een wil Thai eet, wil die ander McDonalds (ook iets was ons nie in Chennai kry nie) en altwee wil gelyk op die DS speel en by die vliegtuig se venster sit. Ja, miskien maar net 'n geval van 2 bedorwe brokkies, 'n oorwerkte pa en gestresde ma wat rebelleer teen weer oppak. Steeds ons het gerus, Japie se arm is beter en ons is reg vir die laaste 2 maande in Indie.

Friday, 16 October 2009

Happy Diwali

Hier buite klink dit soos 'n oorlog - crackers, donderbuise, vuurwerke - Diwali !!!

Japie het weer flink diens gehad by Apollo hospitaal, sy arm is beter, skool vakansie het begin, so Thailand hier kom ons !

Thursday, 15 October 2009

Apollo II

Ek is seker Japie sou vanaand graag weer wou blog, maar hy le uit soos 'n kers op die bed met sy elmboog in die lug. Sy elmboog het hom al hoe meer begin pla en hy is vanoggend hospitaal toe om die vloeistof op die elmboog te laat dreineer. Hoofsaaklik dink ek sou hy al sy goeie woorde oor die Apollo hospitaal se flink diens wou terugtrek !!

In elk geval, om die volle storie te vertel moet ek by Dinsdag middag begin. Die eerste ding wat Inge my gevra het toe ek haar by die skool gaan haal, is of pappa haar Donderdag en Vrydag oggend kan skool toe neem. Ons een-motor-familie se gewone oggend roetine is dat Kotti so 7.15 vir Japie werk toe neem, dan kom haal hy my en die kinders, Inge word 8.30 afgelaai by die skool, dan Jean en laaste ek by die gym (wel soms....) waarna dit tyd is vir Kotti se breakfast. Op my vraag hoe dan so, antwoord Inge, met 'n briefie as bewys, dat sy gekies is om in 'n koor 'n liedjie op UN Day (na die Diwali vakansie) te sing en sy moet die 2 oggende, 8.00 by die skool wees om te oefen en sy weet ek staan moeilik op in die oggende, so dit sal beter wees as pappa haar kan neem ! Soos die Englese se - bless her little cotton socks !! Ongelukkig het pappa klaar sy afspraak vir die operasie gehad vir 8.30 en het ek en Jean haar vanoggend skool toe geneem en Japie is met die aoutorickshwa hospitaal toe - blykbaar die goeie deel van sy dag.

By die hospitaal gekom het hy gewag, gesit, vorms ingevul, gewag, gele, betalings gedoen, gewag en gewag. Intussen het ek gereel dat die kar 11.00 by die hospitaal is om hom op te laai, want volgens die spesialis sou die prosedure oor en verby wees in 3 ure. 11.00 het gekom en gegaan, 14.00 het ek 'n oproep van die hospitaal gekry om te se hy sal eers na 16.00 ontslaan word. Nou na 16.00 beteken eintlik bloot nie voor 16.00 nie, dit kan ook beteken 8.00 die volgende oggend. Kotti het maar teruggekom, ons het die kinders by die skool gaan haal en vanaand net na 18.00 het Japie vaal en bleek, met sy arm in 'n sling, by die huis ingestap.

Japie se hy het toe die dokter uiteindelik opdaag het, dalk te veel vrae gevra, want die narkotiseer was veronderstel om net sy arm te verdoof, maar hy vermoed hulle het hom sommer ingespuit om te slaap. Hy het tydens die operasie aan die slaap geraak en met die wakker word uitgevind dat hulle nie die vloeistof dreineer het nie, maar sommer die sakkie met vloeistof uitgesny het !!

Einde niet - more gaan hy eers tandarts toe vir 'n nuwe tand en dan terug hospitaal toe, sodat hulle 'n waterdigte verband om die arm kan sit...... ons plan is om more aand Thailand toe te vlieg vir die Diwali vakansie. Skielik is ek egter nie meer so seker of dit 'n goeie idee is nie.

Tuesday, 13 October 2009

Vlermuise


Die outjies het hulle tuisgemaak in 'n boom langs Inge se klas. Sy was baie opgewonde en gaan kyk elke dag om te sien of hulle nog daar is. Wel, Halloween is oppad........

Vrugte vlermuise is eintlik baie algemeen hier in Chennai en ons sien gereeld sommer groottes in die aandskemer vlieg.

Wednesday, 7 October 2009

Village swing


Met ons onlangse vakansie, het ons deur 'n paar dorpies gery met die 'village swings'. Elke keer 'n pragtige prentjie. Dit het my bietjie laat dink aan die goeie ou dae - die dae toe kinders saam groot geword het in 'n gemeenskap en almal saam verantwoordelik was vir die kinders. 'n Rukkie terug het Japie vir my 'n UK koerant artikel gegee om te lees oor hoe die samelewing al meer terugdeins om betrokke te raak by ander mense se kinders. By Inge se skool is daar die jaar 'n pragtige groot nuwe klimraam, met monkey bars, glyplank en baie klim plek. Natuurlik moet die skool sekere health en safety reels he vir die klimraam en het alle ouers gevra om voor en na skool ure saam verantwoordelikheid te neem en kinders wat te wild speel en nie by sekere reels hou nie, aan te praat. Baie ouers voel egter glad nie gemaklik hiermee nie en voel dis nie hulle plek om vir ander kinders op die klimraam te se - net een op 'n slag, moenie op die monkey bars klim/sit nie....... Ja, kulture verskil, maar wat 'n komplekse wereld bly ons nie in nie.

Monday, 5 October 2009

Eastern Himalayas

Niks kom darem by 'n lekker vakansie nie. Met net bietjie meer as 2 maande oor in Indie, het ons besluit om vir 'n week na Darjeeling en Sikkim aan die hange van die Himalayas te gaan. Darjeeling, in die Indiese staat West Bengal, is bekend vir groen tee plantasies, Toy train en ou Britse sjarme. Sikkim was vroeer 'n onafhanklike Budhistiese koningkryk, maar is sedert 1975 een van Indie se state, gelee tussen Nepal, Tibet (China) en Bhutan. Sikkim het 'n indrukwekkende natuurskoon - berge (3e hoogste piek in wereld, Kanchenjunga, 8586m), diep valleie (party slegs 300m bo seespieel) en pragtige Budhiste kloosters op die berg toppe. Ons het in 4 verskillende dorpe oorgebly - Kalimpong, Gangtok, Pelling en Darjeeling. Om by die dorpe uit te kom was geen maklike uitstappie nie. Ons moes letterlik oor 2 of 3 berge en diep dale ry om elke keer by die volgende dorp te kom, op enkel paadjies vol gate, water en styl hellings. Gelukkig het ons dit teen 'n stadige tempo gedoen - selde vinniger as 40km/hr en ons het geen karsiek ongevalle gehad nie! In al die dorpe het ons oorgebly in pragtige heritage hotelle. Elke keer is ons ontvang met soetwyn en tee in silwer teepotte, net die regte ding om my te laat ontspan na so 'n rowwe rit.













Die Budhiste kloosters wat ons besoek het was vir my 'n unieke ervaring. Gebedsvlae, gebedswiele, klokke en monikke met hul geel en maroen uitrustings. Die enigste reen van ons vakansie, het in 'n donderstorm uitgebreek terwyl ons Rumtek Monastry besoek het. 'n Besonderse mistieke gevoel, terwyl ons binne in hul hoof saal onder die wakende oog van 'n grootte Budha rondstap.















Mt Kanchenjunga was voorwaar 'n hoogtepunt. Elke oggend vroeg kon ons die pragtige berg bewonder wat dan later deur die dag met wolke bedek is. Soos ons van een dorp na die ander gereis het, het ons elke keer 'n bietjie nader aan die berg gekom. By Darjeeling het ons die groot toeriste uitstappie na Tiger Hill, 4am in die oggend, meegemaak om die son te sien opkom oor Mt K. Natuurlik is dit Indie, so dit was 'n opgewonde, raserige, kleurvolle affere. Ons en 2000 (nie tikfout) ander het in ons warm baadjies en musse saamgedrom en die son se eerste strale met 'n groot gejuig verwelkom. Dit was 'n pragtige oggend en ons kon selfs Mt Everest in die verte sien.















Jean se hoogtepunt was ongetwyfeld die rit op die Toy train. 'n Dag voor die rit het ons vir Jean daarvan vertel. Dit was 'n dag te vroeg. Toe die groot oomblik aanbreek, was hy so opgewonde dat hy glad nie wou staan vir 'n foto by die lokomotief nie en wou net dadelik in die wa klim, reg vir die rit ! Die klein stoomlokomotief en treinspoor is in 1891 voltooi om die Britte in die somer na die lekker koel Darjeeling te vervoer en is vandag 'n UNESCO world heritage site.



Inge was net so in vervoering deur die berge en het met haar 2e weggooi kamera baie entoesiasties foto's geneem ! Sy het ook die vakansie leer skaak speel, 'n saak wat sy baie ernstig benader het en gespeel het om elke keer te wen.

Ook vir Japie was dit 'n besonderse vakansie, siende dat sy jare lange droom van vakansie in Bhutan ampertjies waar geword het. Kalimpong, ons eerste oornagplek, was vroeer deel van Bhutan, so ten minste het hy nou al in ''ou'' Bhutan vakansie gehou !