Friday, 27 November 2009

Pappa kom huis toe....


......Chennai is leeg sonder jou. Wel, na 4 weke se rond karjakker is Japie op die vliegtuig oppad terug. Die kinders het vandag die huis vol versierings gemaak, die beskuit is gebak, Inge se blomme kolam is gemaak en vroeer vandag was die huis aan die kant. Gelukkig was die 2tjies goed moeg vanaand en vroeg in die bed, so nou nog net 1 slapie ! Daar is net een klein probleempie, Japie se FRRO vorm (die een wat hy saam met sy visa nodig het om in Indie te kom) is weg...... Ek het vir hom 'n kopie geemail en more sal Kotti met 'n kopie by die lughawe gaan wag, so duime vas dat dit nie 'n groot probleem gaan word nie.

Inge se 3de taal

Thursday, 26 November 2009

Jean partytjie















Die jaar le al weer op sy rug en in ons huis beteken dit Jean verjaar en Kersfees is naby. Op sy regte verjaarsdag gaan ons huis of net klaar opgepak wees of nog vol pakkers wees. Ons het dus vanmiddag, 2 weke vroeer, vir hom partytjie gehou - sy eerste groot partytjie en ek het het gegaan vir die hele Chennai kinderpartytjie ervaring ! Die beste van alles was, dat dit geen inspanning van my kant geverg het nie, alles gereel deur ons Club. Natuurlik was daar 'n bouncy castle en baie maatjies. Daar was ook lekker kos, ballonne, face painting, die speelpark en 'n spiderman koek. Jean se gunsteling was die spookasem en ek het later ophou tel hoeveel keer hy nog een gaan haal het ! Vir my was dit 'n heerlike middag en ek kon lekker op die stoep onder die bome saam met my vriendinne sit en koffie drink. Die enigste sleg ding was dat Japie nie kon by wees nie..... Jean het hom darem voor die partytjie gebel om te 'wys' hoe die koek lyk!


































NS Ons het 'n klomp van die ballonne na die tyd huis toe gebring en geleer dat helium ballonne en 'n dakwaaier 'n baie groot lawaai kan maak!

Monday, 23 November 2009

Juwele van Indie

In 'n vorige blog het ek reeds vertel van al die baie juwele wat die vrouens hier dra. Meestal is dit goud en 'n spesifieke geel goud waarvan ek nie baie hou nie. Wat vir my pragtig is, is die juwele met die verskillende gekleurde stene - robyne, diamante en smarag vir die met baie geld en vir die res van ons met sirkonium, granaat en wat ook al die goedkoper groen steen genoem word. In suid- Indie word na 'n baie tipiese oorbel wat elke 2e vrou dra verwys as 'n sewesteen oorbel. Een steen in die middel en ses rondom, amper soos 'n blommetjie. ' n Ander een wat baie tipies regoor Indie gedra word, lyk amper soos 'n omgekeerde kelkie (soos die op foto), wat baie eenvoudig van silwer kan wees of versier met allerhande steentjies.

Wel, so tyd terug het ek besluit ek sal graag van die sewesteen oorbelle wil he en so het my ervaring van juweliers in Chennai begin. My eerste uitstappie was saam met Japie ! Juwelier winkels hier bestaan uit lang rye vertoonkaste, met stoele voor dit en baie verkoopsmanne agter die vertoonkas. Niks word vir jou gewys, voor jy nie sit nie. Aanvanklik het ek baie gesukkel daarmee, siende dat ek verkies om vinnig deur 'n winkel te stap, te kyk wat hulle het en dan van nader te kyk of aan te gaan na die volgende winkel. Nee, eers sit, se wat ek wil he en dan word een na die ander laatjies uitgehaal en gewys. Tussendeur moet jy 'n paar keer nee se vir tee, anders word dit 'n heeldag affere. Nog 'n interessante ding, is dat die prys van die juwele van dag tot dag wissel, soos die prys van goud, silwer en die stene wissel ! Heel vinnig het ek iets moois gesien en die verkoopsman het gese ek moet dit aanpas. Dis toe hier wat ek nog 'n ding leer. Indie se oorbelle het nie soos ons s'n 'n gewone pennetjie met 'n indruk butterfly nie. In Chennai kry mens hoofsaaklik 'n Madras screw en soms Bombay screw, wat meer algemeen in die noorde is. Nou 'n Madras screw beteken dat, waar my oorbelle se pennetjie min of meer 1mm dik is, is die pennetjies maklik 2mm dik en die butterfly skroef in. 1mm mag nie na baie klink nie, maar dit is 'n onmoontlikheid om sulke oorbelle in my ore te kry. Die bombay screw kan ek soms inkry, maar dit neem my maklik 5 minute om in te skroef en dit maak my ore seer. Na my en Japie se eerste probeerslag by VBJ, Chennai se baie befaamde juwelier, het ek nou al by nog 'n paar ander plekke ook gaan kyk. Elke keer dieselfde storie. Sover het ek ek baie raad gekry van die verkoopsmanne, van om 'n sandlewood stokkie in my oor te dra vir 'n paar dae om my gaatjies te rek tot om olie aan te smeer voor ek dit insit ! Een het darem al voorgestel dat hulle die pennetjies kan verander..... Wel, vandag het ek besluit om maar eerder 'n paar silwer hangende kelkies te koop (amper soos op die foto) en die sewesteen oorbelle vir die Chennai dames te los. En Inge se dis mooi !

O ja, nog 'n interessante brokkie is dat goue juwele hier is amper soos valuta. Meeste juweliers sal ook goud juwele van jou koop. Op enige gegewe dag het hulle 'n koop en verkoopprys vir goud. Ek het juis laasweek langs 'n vrou gesit wat 'n hoop goue armbande (tien teen een vir haar troue gekry) laat weeg het, om in te ruil vir 'n halsnoer ! Natuurlik met haar man langs haar vir goedkeuring.

Inge se gebed

Inge het vanaand gebid dat Jesus ons sal help om vinnig weer maatjies in Dubai te maak. Klein soos sy is, verstaan sy dat 'huis' beteken daar waar familie en vriende is .

NS. Sy het ook dankie gese dat ons geld het, sodat mamma vandag kon gaan inkopies doen. Ek was vandag op 'n missie, het 'n paar Chennai herrineringe gaan bymekaar maak - sonder 'n kamera. Inge se kommentaar was - Mamma, jy het nie vandag gesave nie, maar sy was baie beindruk met my aankope!

Wednesday, 18 November 2009

Bubble festival

Inge het gister by haar skool 'n 'bubble festival' gehad. Wat 'n ongelooflike oulike idee, die kinders het hope pret gehad, baie geleer en kans gekry vir eksperimenteer. Die hele event word oor 3 dae gehou en net 4 klasse op 'n slag kry 'n kans vir bubbles, bubbles en bubbles maak. Ek het gaan help en dit net so geniet. Daar was 12 verskillende stasies waar by elkeen bubbles op verskillende maniere gemaak word, van body bubbles, window bubbles, bubble colours, tot bubble foam en standing inside a bubble ! Hier is 'n paar foto's.






Friday, 13 November 2009

Waarheen volgende?

Dubai.

So skielik is die einde van amper 2 jaar in Indie hier. 6 maande terug was die plan nog om terug te gaan na Engeland en ons huurders in Westcott trek volgende Saterdag uit. So ons huis wag vir ons, maar helaas ook nie. Ek het baie gemengde gevoelens en miskien daarom het ek nog nie uitgekom by blog oor wat voorle nie. In elk geval hier is die logostieke feite en planne (ek sal die emosies los vir later....)

Japie het verlede week in Dubai begin werk, steeds by dieselfde maatskappy. Eers was hy 'n week in Dubai, daarna 'n week in Hong Kong en more is hy oppad Engeland toe vir 2 weke. Daarna kom hy vir ons in Chennai kuier vir 4 dae, voor hy weer teruggaan na Dubai. Inge se skool sluit die 11e Desember en ons hoop om die 12e by Japie in Dubai aan te sluit. Voor dit word die huis opgepak, die week van 7 Desember en ons moet afskeid neem. Daar is ook die gewone admin dinge wat afgehandel moet word, soos bankrekeninge sluit, telefoon kanselleer en 'n grootte, Inge se skool se transfer certificate reel. Ons hoop om Inge en Jean van Januarie in 'n Britse skool in Dubai te he, maar siende dat dit beteken Inge gaan van curriculum verander, is dit nie 'n eenvoudige oefening nie (ten spyte daarvan dat sy maar net 6 is!!). In Desember sal ons begin blyplek soek in Dubai, verkieslik naby die werk en skool en enige tyd vanaf die 2e week in Januarie sal ons skip (!) aankom. Sondag 3 Januarie begin die skole in Dubai weer vir hul 3e kwartaal en ons 2 kindertjies sal in hul nuwe skool uniforms reg moet wees vir 'n nuwe begin.

Tuesday, 10 November 2009

Monsoon


Die monsoon is hier - uiteindelik. Dit reen al 4 dae. Die reen wissel tussen Gautengse donderstorm buie, Engeland se drizzle, Kaapse harde winter reen en hier en daar 'n stilte. Alles is onder water en paaie lyk soos riviere. Die eerste dag is almal bly oor die reen, want dit bring ook 'n einde aan die hitte, maar hoe langer dit aanhou hoe meer bedremmeld raak die mense. Natuurlik is dit nie 'n plesier om in so 'n bui op 'n motorfiets werk toe te ry, terwyl die water by jou huis in drup nie. Op die paaie maak almal 'n plan om die nat te keer - motorfiets passasiers hou sambrele vas, die sonder passasier maak 'n plastiek sak om die kop vas om hare droog te hou (nee steeds nie helmet nie!), autorikshwas se seile kom af en as die bui te hard is, skuil almal onder brue of winkeltjies langs die pad. Staat skole was Vrydag, Saterdag en Maandag gesluit (ja, baie kinders gaan op Saterdae skool). Chennai se monsoon hou nooit baie lank aan nie, gewoonlik nie langer as 'n maand nie en dit raak steeds nie regtig koud nie.










Ons is van die min gelukkiges wat nie veel beinvloed word deur die reen nie. Die reen hou ons wel meer binne, ons moet bietjie vroeer opstaan om betyds by die skool te kom, ek moet die stort se geyser nou 15min voor ek wil stort aansit in plaas van net soos ek inklim, ons moet meer gereeld neuse toedruk, ons kan die A/C's afsit, die muskiete word meer en Jean se skool was ook vir een dag gesluit.

Wel, ons hoop die monsoon bring genoeg reen, want 'n monsoon wat wegbly of the min reen bring is veel erger as om die nat van die monsoon vir 'n kort rukkie te verdra.

Friday, 6 November 2009

Die vroue van Chennai

My mooiste herinnering van Chennai sal altyd die vroue wees. Die vroue hier is pragtig. Nie eksotiese wulpse Bollywood modelle wat die een nes die ander lyk nie. Eerder gewone skugter vrouens, wat met hul helder kleurige saris, goue juwele, bindis op die voorkop en jasmynstringe in hul lang swart vlegsels my dae opvrolik . Die vroue hier word gereeld as konserwatief beskryf, en ek se dankie tog, want 'n jean en t-hemp sal net nooit kan vergelyk met 'n sari nie. Die vrouens op die strate dra saris van sagte materiale wat gemaklik om hul lywe vloei, terwyl 'powerdressing' vir beroepsvrouens, gestyfde katoen saris beteken. Natuurlik breek die jonger klomp weg van sari dra, maar gelukkig meestal net na salwar kameez pakkies, steeds vol kleur en baie blink. Die wat hulself as heel modern beskou, dra jeans met 'n kurta.

Mooi gebeur nerens vinnig en maklik nie. Dogtertjies se hare word op 'n jaar afgeskeer en dan vir die eerste paar jaar kort gedra, met die geloof dat dit sal help vir dikker hare eendag. Om later jare die lang swart hare blink te hou, word dit gereeld geolie. Watter olie om te gebruik, is omtrent soos chai maak, elke familie het sy eie resep, gewoonlik kokosneutolie met 'n bietjie van dit en 'n bietjie van dat. My een vriendin glo daar moet fyn curry leaf by die olie kom. Wel, baie van die vroue hier het vlegsels so dik soos my voorarm, so daar moet iets in steek. Ongelukkig het die olie nie altyd 'n lekker vars reuk nie. Om daarvoor op te maak en al Chennai se ander reuke af te weer, kom die jasmyn in die hare goed te pas. Vir 'n gewone dag, is dit net 'n stringetjie wit blommetjies wat los aanmekaar gebind is. Vir spesiale dae word dik stringe gemaak met rooi rose tussen in. Geen meisie met kort hare sal ooit 'n man kry nie, so vir 'n jong meisie wat nog nie wil trou nie is korter hare 'n goeie opsie.

Chennai se vroue het ook perfek gevormde wenkbroue. Hier laat jy nie jou wenkbroue pluk nie, dit word ge'thread'. Dit is 'n fyn kuns, die een wat dit doen hou 'n gare draad tussen haar vingers en mond en trek daarmee die haartjies uit (sommer 'n paar op 'n slag) om die perfekte vorm te kry. Die proses is blykbaar baie meer effektief en hou langer as die gewone manier met 'n tweezer, maar volgens my meer pynvol.

Dan is daar die strewe na ligte velle. Suid Indiese vroue se velle is donkerder as die van die noorde en onderskeid word gemaak tussen 'dark', 'wheat' en 'fair'. Vogrome word nie net geadverteer vir hoe dit plooie kan laat verdwyn nie, maar ook vir hoeveel ligter dit die vel kan bleik.

Die bindi op die voorkop is deesdae meer 'n mode item as 'n godsdiens gebruik. By 'n blou uitrusting sal die bindi 'n tikkie blou in he, vir die aand 'n blink steentjie en vir kinders by die skool gaan haal, is dit net 'n klein-klein swart kolletjie.

Juwele, wel dis hier waar die vroue beloon word. 'n Familie se rykdom word geken aan hul vrouens se juwele. Ringe, oorbelle, hangertjies, neus en toonringe, enkelbandjies en die belangrikste die armbande. Indiers koop goud soos ons andele en bonds koop. 'n Goue armband in 'n juwelierswinkel se prys verskil van dag tot dag soos die prys van goud verander. Indiers hou die goudprys dop soos ek elke dag die weervoorspelling kyk.

Om 'n vrou in Suid Indie te wees is nie altyd maklik nie, veral nie in die laer caste nie. Vir 'n arm familie is 'n eerste baba dogtertjie 'n teleurstelling, 'n tweede dogtertjie 'n las en 'n derde 'n onmoontlikheid. Met 'n swangerskap is dit nie wettig om uit te vind wat die geslag van 'n baba is nie, want die vrees is dat dit tot baie aborsies sal lei. Die gevolg is dat onwelkome baba dogtertjies 'weggegooi' word, hospitale het soms selfs 'n wiegie spesifiek waar ouers die babas kan kom los om te voorkom dat die baba dalk vermoor word. 'n Seun in 'n familie is 'n aanwins, siende dat 'n seun verantwoordelik is om eendag vir sy ouers te sorg. Vir 'n dogter om te kan trou, moet haar familie dowry betaal aan die skoonfamilie, 'n onwettige gebruik, maar nog baie aktief. Die dowry kan betaal word in die vorm van kontant, goud of eintlik enige iets soos vereis van die man se familie en baie keer word hoer eise gestel op letterlik die vooraand van die troue. Baie vroue is trots om te kan se dat daar nie dowry ter sprake was by hul troue nie. Na die troue trek die vrou dan by die skoonfamilie in waar sy moet bontstaan om hul te bedien.

Vrouens se belangrikste fokus is hul kinders se opvoeding en vir baie gaan amper hul hele salaris daarin. Soos Amudha se, die enigste rede hoekom sy werk, is om haar kinders na goeie skole te stuur en tutors te kan bekostig. Hoe groter die salaris, hoe beter die skole. Vroeg moet sy dus opstaan om voor werk die waterkanne vol te maak en om die lensies en rys te maal vir die dag se idlis en dosas. Ja, Chennai vrouens is hul gewig in goud werd.


Wednesday, 4 November 2009

Woensdag is dorpdag


Tuesday, 3 November 2009

Dinsdag is strykdag

Monday, 2 November 2009

Maandag is wasdag